God Se Woord – Francois Malan

Martin vra:

Ek het my hele lewe lank nooit God se Woord gelees of geken nie. In die huis was nie so iets soos godsdiens of kerk in enige manier van gepraat nie.Ek is vandag 57,en probeer dinge optel en al meer vrae duik op en ek sukkel om werklik met die Woord reg te kom en te verstaan.Ek glo dat God bestaan, maar op die oomblik is ek werklik op soek na iets om aan werklik vas te hou in die Woord. Ek het my lank met drank en vriende omgegaan,en het op n tyd rondgeslaap terwyl ek getroud is. Dit is net asof iets my ongeveer 3 jaar gelede gestop het,en almeer na God se Woord begin soek en n waarheid wat vir my kan sê en wys dat God werklik is. Ek het n ruk lank die bybel begin lees ens, totdat my vrou eendag gese het jy kan die “stuk ding”maar verbrand. Ek het opgehou lees, maar kyk en luister net waar ek kan en kans het na die woord, soekende na God.Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles,wat ek aangejaag het, teen God gesondig as ook aan almal om en met my. Dankie

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Nadat Israel ’n goue kalf gemaak en dit aanbid het, het Moses wat, op bevel van die Here die volk Israel uit die slawerny van Egipte gelei het, vir die Here gesê: ‘Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde (Eksodus 32:31-32). Daarna het die Here Hom aan Moses soos volg bekendgemaak:

            ‘Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie’ (Eksodus 34:6-7).

 Die naam ‘Here’ is ’n vertaling van die Hebreeuse naam Jahweh wat die Here aan Moses bekendgemaak het toe Hy hom geroep het om Israel uit Egipte te lei. Moses het gevra wat Hy vir Israel moet gaan sê is die naam van die God van hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob wat hulle uit die slawerny sal verlos. Toe sê God vir Moses: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir Israel gaan sê Jahweh,  ‘die Ek is,’ die God van Abraham en Isak en Jakob, het my na julle toe gestuur. Dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word (Eksodus 3:13-15). Die Naam beteken: ‘Ek is altyd en oral aktief teenwoordig’ en dit as die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Dit is die God wat vergewe as daar berou is oor die sonde.

 So het God Hom in die Ou Testament bekendgemaak. In die Nuwe Testament het God veel meer gedoen. Hy het sy enigste Seun gestuur, wat in die Ou Testament reeds opgetree het as die Woord van God, wat in die begin by God was en self God was. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense (Johannes 1:1-4). Genesis 1:3: Toe het God gesê (deur sy Woord): ‘Laat daar lig wees. En daar was lig, ens.’  ‘Dié Woord het mens geword en onder ons kom woon…die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid…die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom, Hy het die Vader aan ons bekend gemaak’ (Johannes 1:14-18). Van Hom sê Paulus: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’ (1 Korintiërs 8:6).

 Die ware lig wat elke mens verlig was in die wêreld en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was, en tog het sy eie mense, die volk Israel, Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:8-12).

 Die wonder dat God ons as sy kinders aanneem kon slegs gebeur deurdat Jesus Christus, self God, aan die kruis gesterf het vir die sonde van die hele wêreld. Hy wat God is wat mens geword het, het die straf van God op die sonde van die mensdom op Hom geneem. Daardeur is ons verhouding met God reggemaak. Ons word deur God vrygespreek deur sy Seun se offer van Homself aan die kruis aan te neem. As ek glo dat Jesus ook vir my sonde gesterf het, en opgestaan het sal ek ook saam met Hom kan begin lewe vir God en my medemense.   

 Paulus skryf daaroor in Romeine 5. ‘Omdat ons nou op grond van geloof geregverdig en vrygespreek is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons jubel oor die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God…ook te midde van verdrukking…En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is….God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was…’ (Romeine 5:1-8).

 Die Heilige Gees van God wat in ons kom woon het, verander ons lewe. Hy lei en leer en versterk ons in die geloof in God (Johannes 14:15-17; 16:8; Romeine 8:11.14). Die vrug van die werk van die Heilige Gees van God in ons, is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid/nederigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

 Paulus sê: ‘God is vir ons, wie kan teen ons wees? Niks kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ (Romeine 8:31 en 39).

 Jy vra: ‘Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles, wat ek aangejaag het, teen God gesondig asook aan almal om en met my.’ Waar? – enige plek waar jy ookal kan wees, want God is oral en altyd teenwoordig in sy skepping.

 In Ps 139:1-12 sê Dawid: ‘Here, U deursoek my en ken my. U ken my sit en my opstaan; van ver af verstaan U wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie eers ‘n woord op my tong nie, of U, Here, ken dit volledig. Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is ’n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil oorval, en die lig om my nag word”, is selfs die duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos dag, is die duisternis soos die lig.’ 

 Dat iets jou ongeveer drie jaar gelede gestop het – jy kan seker wees dit is die Here wat met jou besig is. Selfs nadat jy ophou Bybel lees het, is die Here nog steeds met jou besig. Daarom het jy op 17 Mei met jou vrae na die webwerf gekom. 

Hoe ’n mens na die Here toe kom – in gebed. Deur te glo dat God by jou is en jou hoor as jy in gebed met Hom praat, al is dit ’n stilgebed.

 Jesus het die gelykenis vertel van die Fariseër en die tollenaar wat by die tempel gebid het (Lukas 18:9-14). Die Fariseër het vir die Here vertel hoe goed hy is. Die tollenaar het net gesê: ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ‘Jesus het vir sy volgelinge gesê, ‘hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is.’

 Skrywer:  Prof Francois Malan