Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld

image_pdfimage_print

Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld – Dirk Venter

Rudolph vra:

Help met ‘n paar definisies asb: Goddeloos God-loos God-los God-verlate God-vervul(d) Groete

Antwoord:

Dr. Dirk Venter antwoord:

Voordat ek definisies voorstel vir die bogenoemde terme, net eers iets oor die aard van die betekenis van woorde. Hoewel ‘n mens dikwels geneig is om te dink dat woorde vaste betekenisse het, is dit nie eintlik die geval nie. Die betekenis van ‘n woord is nie staties nie, maar hang af van die konteks waarbinne dit gebruik word. Hierdie konteks kan byvoorbeeld die gesprek of teks wees waarin die woord gebruik word. Wyer nog sluit konteks selfs ook in: die tyd (era) en omgewing waarin iets gesê word, en die kultuur van die spreker en hoorders, ens.

Neem nou byvoorbeeld die sinnetjie: “Hou my dop”. Wat is die betekenis van dop?  Ons kan dink aan ten minste drie moontlikhede, en die konteks bepaal telkens die betekenis.

Konteks 1: jou vriend wil die vleis omdraai op die braaier, en gee vir jou sy drankie om te hou sodat sy hande vry kan wees… “Hou my dop”.

Konteks 2: ‘n klein seuntjie wil vir sy ma wys hoe hoog hy kan swaai op die swaaie in die speelparkie… “Hou my dop!”

Konteks 3: ‘n klein skilpadjie wil gaan swem, trek sy dop uit en hou dit na sy ma toe uit… “Hou my dop!”

Laasgenoemde “konteks” (3) is duidelik fiktief. Dit kom eintlik uit ‘n bekende grappie wat net in Afrikaans werk. Dit onderstreep dan juis hoe belangrik dit is om die groter konteks waarbinne iets gesê word, in ag te neem, ten einde seker te maak dat jy ‘n woord reg verstaan, soos bedoel deur die gebruiker daarvan in die konteks waarin hy hom bevind het toe hy dit gebruik het. As ‘n mens dus ten opsigte van die laaste voorbeeld nie in gedagte hou dat dit deel is van ‘n grappie nie, kan jy dalk net tevergeefs baie tyd en energie mors op soek na daardie klein, pratende skilpadjie wat sonder sy dop kan swem, (of jou dalk onnodig vererg vir die verteller van die staaltjie wat sulke onwetenskaplike onsin kan kwytraak)…

Hier is dus my poging om algemene definisies van die woorde te probeer gee. Hou asb. in gedagte dat dit kontekslose definisies is en dus nie in alle kontekste geldig sal / kan wees nie:

Goddeloos – hierdie is ‘n erkende Afrikaanse woord en word deur die HAT gedefiniëer as “1. sonder [geloof in] God, sonder godsdiens; 2. sedelik sleg en verdorwe, sondig; 3. erg sleg, vreeslik, verskriklik; 4. erg ondeund, vol kattekwaad.”

Godloos – word deur die HAT gelys as ‘n sinoniem van die eerste moontlike betekenis van “goddeloos”: met ander woorde “sonder [geloof in] God of ‘n god, sonder godsdiens”.  Sou mens die woord sonder ‘n kleinletter skryf, “godloos”, sou dit daarna kon verwys dat iemand geen god erken en/of gehoorsaam nie, hetsy dit die ware God of ‘n afgod sou wees.

God-los – hierdie is sover ek kon vasstel (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie. Ek veronderstel dat dit gebruik kan word om te verwys na ‘n situasie waar iemand “los” van God (begin) lewe, ongeveer sinoniem aan “afvallig”.

God-verlate – ‘n erkende Afrikaanse woord. Die HAT gee die volgende betekenismoontlikhede: “1. deur God verlate, ellendig; 2. uiters verlate, eensaam, afgeleë”. Onwillekeurig dink ‘n mens aan die woorde van Jesus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt 27:46), toe Hy vanweë ons sonde die straf van Godverlatenheid plaasvervangend op Hom geneem het.

God-vervul(d) – weereens, sovêr ek kon vasstel, (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie, wat die betekenismoontlikhede daarvan soveel minder seker maak. In die konteks van die Nuwe Testament kry ons egter die konsep dat God se kinders vervul is met die Heilige Gees. Dit sou beter wees om, soos die Nuwe Testament (bv. Efesiërs 5:18), van vervulling met die Gees te praat, eerder as van God-vervuldheid aangesien dit tegnies gesproke (soos gebruik deur die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke) nie God die Vader (of Jesus Christus) is wat ‘n gelowige vervul nie, maar wel die Heilige Gees. In verband met die vervulling deur die Heilige Gees kan die volgende ander artikel op bybelkennis.co.za gerus nageslaan word:

Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

uit Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy.

 

Skrywer: Dr Dirk Venter

 

image_pdfimage_print

You may also like...