Goeie Vrydag

Goeie Vrydag – Jan van der Watt

Louwtjie vra:

Verduidelik asb Goeie Vrydag in verstaanbare taal aan 6-10 jaar kinders, asook hoekom noem ons die dag Goeie Vrydag?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Sjoe, Louwtjie, dit is ʼn moeilike vraag, omdat Goeie Vrydag deel van ʼn veel groter verhaal is, naamlik die verhaal van God se liefde vir die mense wat Hy gemaak het; tog het hulle teen Hom gedraai, maar Hy het nie teen hulle gedraai nie. Hy het toe ʼn plan gemaak om hulle te help om hulle verhouding met Hom te herstel deur hulle sonde te vergewe. Omdat God egter met die mense ʼn ooreenkoms (verbond) gemaak het, was daar probleme. Soos enige ooreenkoms is daar vereistes. God sal vir die mense doen wat ʼn God vir hulle moet doen – hulle versorg, beskerm, bystaan, ens. Maar hulle moet vir hom ʼn volk wees, deur te lewe soos mense wat aan God behoort. Die bepalings sê egter dat as die mens nie sy deel nakom nie, moet hy sterf.  Dit is deel van die ooreenkoms. Om ons ʼn kans te gee, het God sy Seun gestuur om die ooreenkoms na te kom en in ons plek te sterf. Dit het op Goeie Vrydag gebeur. Tog het Hy weer opgestaan en is tot vandag toe nog ons lewende Here.

Eerstens, dit is moeilik om dus die dood van Jesus goed te verduidelik sonder die breër prentjie waar dit inpas. Daarbenewens is dit nooit lekker om oor die dood te praat nie. Die maklike deel hierin is dat die Vrydag toe Jesus gesterf het, vir al die mense wat in Hom glo redding gebring het. Daarom is dit Goeie Vrydag. Daarsonder sou ons kniediep in die moeilikheid en die sonde gewees het.

Nou hoe verduidelik jy dit vir ʼn kind. Ek is nie ʼn spesialis op verduideliking aan kinders nie, maar daar is ʼn paar maniere. Die een is om ʼn ‘storietjie’ wat parallel daaraan loop te maak. Jy kan byvoorbeeld vertel van iemand wat in die moeilikheid is (daarop kan mens uitbrei) en hoe iemand anders bereid is om hom uit die moeilikheid te help sonder dat hy dit regtig verdien. ʼn Ander moontlikheid is byvoorbeeld om ʼn dramatjie te maak waarin een van die kinders gevang word deur ʼn slegte persoon en deur ʼn ander een gered word, ens. Die basiese idee is dat Jesus vir ons gedoen het wat ons nie self kon nie en ons so uit die moeilikheid gehelp het. As  jy verdere idees het, laat gerus weet, dan voeg ons dit by hierdie artikel.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt