Groei deur swaarkry.

Suffering is God’s surgery that leads to health when we respond by faith. —Ed Welch

 

Groei deur swaarkry.

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings  oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming (Jakobus 1:2 – 4).

 

 

Die Cecropia-mot

Hierdie is ‘n ongelooflike gebeurtenis in die natuur. Met groot moeite bevry die mot hom uit sy kokon. Iemand het hierdie gesukkel aanskou. In ‘n poging om te help, neem  hy ‘n skêr en sny die kokon oop. Gou kom die mot te voorskyn. Sy vlerke was heeltemal verskrompel. Die persoon kyk wat nou gaan gebeur. Die vlerke bly swak. Die mot kon glad nie sy vlerke oopsprei en vlieg nie – hy kruip rond. Hy is gefrustreerd, want hy kan nooit die pragtige mot wees wat God bedoel het hy moet wees nie.

 

Wat die persoon nie besef het nie, was dat die gesukkel om by die kokon uit te kom ‘n noodsaaklike deel van die ontwikkeling van die spiersisteem van die mot was. Dit stel hom in staat om sy vlerke uit te sprei. Deur die mot se stryd te vergemaklik, het die persoon die mot se bestaan verdoem.

Die teenstand wat ons in die lewe ondervind is baie soortgelyk. God gebruik dit om ons geestelike “spiere” te ontwikkel.

 

Ons kan seker weet dat die ontwikkeling van ‘n geestelike karakter nie sonder swaarkry sal gebeur nie. Dink aan Paulus se beskrywing van die vrug van die Gees (Galasiërs 5:22 – 23). Die eerste vier – liefde, vreugde, vrede, geduld – ontwikkel veral as ons swaarkry. Ons mag dink ons het ware Christelike liefde totdat iemand ons beledig; ons dink ons het Christelike vreugde totdat een of ander ramp of teleurstelling ons tref; teenstand vernietig ons vrede en beproef ons geduld. God gebruik swaarkry om vir ons te wys dat ons ‘n behoefte aan groei het.