Hantering van slange

Hantering van slange – Francois Malan

‘n Leser vra:

Markus 16:18: Ons is almal bewus van die wondertekens, nl duiwels uitdryf, in tale praat & siekes die hande oplê, maar wat is die betekenis van slange hanteer en giftige stowwe drink, sonder om iets oor te kom? In watter konteks is dit? Wat is die betekenis hiervan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die 1983-vertaling staan daar by Markus 16:8 dat in die grondteks die Evangelie hier ophou. In sommige manuskripte is verse 9-20 bygevoeg. Waarskynlik is die byvoeging gedoen omdat vers 8 so stomp afsluit met ‘want hulle was bang.’ En dat die laaste gedeelte saamgestel is uit ander dele van die Nuwe Testament.

Met vers 9 begin ‘n beknopte samevatting van verskeie verskynings van die Here. Die gegewens word in die ander Evangelies teruggevind: vs. 9-11 in Joh. 20:1,2 (vgl. 20:11-18); vs. 12-13 in Luk. 24:13-35; vs. 14-16 in Mat. 28:16-20; vs. 19 in Luk. 24:50-53.

In Mark. 16:17-18 gee die Here aan die gelowiges die belofte dat Hy deur wondertekens hulle geloof sal bevestig. In vers 20 word dan gesê dat hulle die evangelie oral gaan verkondig het, dat die Here met hulle saamgewerk het en hulle prediking bekragtig het deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

Van hulle uitvoering van die Here se opdrag om te gaan verkondig vertel die boek Handelinge, ook van die wondertekens waarmee die Here die boodskap bevestig het.

So vertel Handelinge 28:3-6 bv. dat Paulus, toe hulle op die reis na Rome op die eiland Malta gestrand het, help vuurmaak het en ‘n slang uit die hout aan sy hand gebyt het, dat hy die slang in die vuur gegooi het, dat die bevolking, wat die slang ken as ‘n giftige slang, verwag het dat hy sal sterf, maar dat niks met hom gebeur het nie.

So het Jesaja 11:8 reeds in die vooruitsig gestel dat in die koninkryk van God ‘babatjies by die gate van adders sal speel en klein kindertjies hulle hande uitsteek na giftige slange.’

Die gifbeker word nie verder in die Bybel gemeld nie. Daar was by die Grieke en Romeine ‘n gebruik om iemand se onskuld te bewys deur hom of haar gif te laat drink, en as hulle nie sterf nie, is hulle onskuldig. Of dit aanleiding gegee het tot die invoeging hier is nie seker nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan