Harde woorde = Liefde?

There is no better test of growth than that a man desires God because he is God. —Martyn Lloyd-Jones

 Harde woorde = Liefde?

Expect great things from God; attempt great things for God. (William Carey, sendeling na Indië). Ons hou van hierdie aanhaling. Daar is een groot gevaar:  ons doen groot dinge, sodat ander mense ons kan raaksien.

 

 Na Stefanus se marteldood neem die vervolging van Christene dramaties toe. Die gelowiges is uitmekaar gejaag. So gebeur dit dat Filippus in ‘n Samaritaanse stad aankom. Daar verkondig hy die evangelie en doen wonders.  Die mense het aandagtig geluister na wat hy te sê het: Daar was groot blydskap in daardie stad (Handelinge 8). Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het, het ook in daardie stad gewoon. Hy word selfs deur Filippus gedoop.

 Hy was ‘n bekende in die stad en die inwoners het selfs na hom as “Die Groot Krag van God” verwys. Mense het hom bewonder. Toe Filippus daar aankom, verander alles. Simon sien dat die ware krag van God deur Filippus vloei. Toe kom Petrus en Johannes daar aan. Die gelowiges in die stad ontvang toe die Heilige Gees. Hulle trek nog groter skares as Filippus. Almal praat daarvan – ook Simon. Sy ster was besig om te verskiet.

 Simon was gewoond daaraan dat die mense hom bewonder het. As hy maar net ‘n bietjie  van hierdie krag kon kry, sal hy weer groot wees en sou die mense hom weer bewonder. Hy bied vir die apostels geld aan as hy maar net die bevoegdhede wat hulle het, kon kry. As hy Petrus se reaksie sien, besef Simon dat hy ‘n groot fout gemaak het: Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. Kwaai woorde. Simon krimp inmekaar en sê: Bid julle tog vir my tot die Here, sodat niks wat julle gesê het, my tref nie.

 Is Petrus se woorde nie te kras nie? Nee, dit is woorde vol genade. Die liefde vir selfverheerliking is ‘n gevaarlike sonde – dit is geestelik dodelik as dit nie hanteer word nie. Beide Petrus en Johannes is by geleentheid deur Jesus tereggewys. Hulle het besef dat dit vir hulle voordelig was. Ongelukkig weet ons nie wat Simon se reaksie was nie.

 God wil nie hê dat ons hierdie waarskuwing moet ignoreer nie. Hierdie gedeelte is opgeneem in die Bybel, sodat ons sal onthou dat God se krag nie ‘n kommoditeit is waarmee ons handel kan dryf nie. Dit is nie ‘n manier om ons eie grootheid of rykdom na te streef nie.

 Ons almal kan ‘n ietsie van Simon in onsself sien. Ons word almal versoek om ons eie heerlikheid na te streef – selfs as ons in die koninkryk van God werk. As ons dit raaksien, moet ons dit in ‘n ernstige lig sien en dit uitroei. Ons moet dit bely, berou hê en weerstaan.

 Laat ons groot dinge van God verwag; laat ons groot dinge vir God aanpak. Maar ons moet altyd Petrus se raad onthou: So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen (1 Petrus 4:11).