Hardloop vir jou lewe

. —Martin Luther

Hardloop vir jou lewe

Kerkleierskap is soms moeilik. Jy ontvang ‘n e-pos wat jou die hele dag lank ontstel; jy het personeelprobleme wat jou energie tap; jy voel die lidmate is hiper-krities en waardeer jou nie; en so kan ons aangaan. ‘n Boek wat kan help, is Ruth Haley Barton se Invitation to Solitude and Silence. Hierin vertel sy die verhaal van Elia wat nie net vir sy lewe wou hardloop nie, maar werklik gehardloop het.

 

Elia se verhaal begin met ‘n oorwinning – man alleen teen 450 profete van Baäl en ‘n onvoorspelbare koning. Elia roep God aan en God antwoord hom – en al die mense sien dit. Sy vyande is verslaan; God het oorwin; en die mense praat oor Elia. ‘n Baie goeie dag vir Elia.

Maar daarna volg een van Elia se slegste dae. Isebel, die mag agter koning Agab se troon, belowe dat sy  vir Elia gaan doodmaak. Blykbaar het sy die reputasie gehad dat wat sy belowe het, sy doen. En weg is Elia.

Jy as kerkleier het al lelike e-posse gekry; jy het al briewe gekry wat jou bang maak. Het jy al ‘n e-pos gekry van iemand wat belowe om jou dood te maak voor die son ondergaan? Onwaarskynlik. Baie leiers kry lelike e-posse en dit rol soos water van ‘n eend se rug af. Party maak asof dit hulle nie pla  nie, maar stadig versprei die gif tog deur hulle are en maak hulle siek.

Elia konfronteer nie vir Isebel nie; hy gaan nie na sy vriende vir raad nie; hy vertrou nie op God nie … hy hardloop tot in die woestyn.  Daar het hy onder ‘n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” (1 Konings 19:4)  Geen  cliché’s, geen gebed nie – net die naakte waarheid. Daar onder die besembos raak hy aan die slaap.

As jy wil hardloop, moenie voorgee dat dit nie so is nie. As ons na die woestyn hardloop, vind ons die waarheid – oor God en oor onsself.  Daar onder die besembos word Elia wakker met die uitnodiging: Word wakker! Eet! ‘n Engel het vir hom ‘n roosterkoek en water gebring. As jy regtig aan die einde van die pad gekom het, kom God na vore met die basiese dinge – ‘n roosterkoek en water. As ons regtig moedeloos is, vra ons vir ‘n woord van God. Miskien wil God net hê ons moet slaap en dan ietsie eet.

Toe Elia klaar geëet en gedrink het, gaan hy weer slaap. ‘n Tweede keer maak die engel hom wakker en sê vir hom: Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Elia staan op en eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte  lank loop tot by Horeb, die berg van God.

Miskien moet ons ook hardloop – vir jou lewe; na die woestyn. Daar kan jy eerlik met jouself wees; daar kan God met jou praat; daar mag God jou uitnooi vir ‘n reis; daar kan God vir jou kos gee. Miskien is dit tyd vir jou om te hardloop.