Heiligmaking: Wat beteken dit?

Worldliness is whatever makes sin look normal and righteousness look strange (Kevin DeYoung)

 

Heiligmaking: Wat is dit?

Nadat ons vrygekoop is, volg ‘n proses van groei en ontwikkeling/transformasie. Meer en meer besef jy die werklikheid van dood vir die sonde en jou ou sondige lewe. Hierdie proses van meer en meer soos Jesus word, staan as heiligmaking bekend. Heiligmaking het meer as een betekenis. Basies beteken heiligmaking afgesonder – jy word vir God afgesonder. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God (1 Korintiërs 6:11). Dit vloei voort uit die kruis waar God ons deur Jesus Christus gekoop en vir Hom opgeeis het. Jy behoort nou aan God, maar nou moet jy dit uitleef.

 

 

Kom ons kyk na drie betekenisse van heiligmaking:

  • Definitiewe heiligmaking

Jy is permanent vir God afgesonder. As jy ‘n gelowige is, is jy ‘n heilige. Die direkte vertaling van Filippense 1:1 is heiliges. Ongelukkig het heiliges by ons dikwels die betekenis van super-gelowiges gekry en daarom word dit gewoonlik met gelowiges vertaal.

 

  • Progressiewe heiligmaking

Dit is die werk van God se genade waardeur ons vernuwe word na die beeld van God. Ons word in staat gestel om meer en meer vir die sonde te sterf en te leef soos iemand wat vrygespreek is.

Ons het hier met ‘n voortdurende proses van karakterverandering te doen – ‘n proses wat ons van ons sondige gewoontes vry maak en in ons liefde, gesindhede en deugde vorm soos ons dit in Jesus Christus kry. Ons groei dus in heiligheid, want heiligmaking is die somtotaal van miljoene klein dingetjies.

 

Hierdie is ‘n lewenslange proses wat begin net na ons verlossing. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5). Iets gebeur met ons as ons wedergebore word – die Heilige Gees gee vir ons nuwe lewe en nuwe krag. Die Heilige Gees begin onmiddellik met sy vernuwingswerk in ons om die krag van die sonde wat van ons slawe gemaak het, te breek.

 

Eenvoudig gestel: Wedergeboorte is geboorte (eenmalig); heiligmaking is groei (‘n proses). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18 ). Ons sien dus dat heiligmaking die werk van die Heilige Gees is.

 

God gee aan ons die begeerte en krag om regverdig te lewe, maar ons moet ook aktief daaraan werk om God se wil te doen. Heiligmaking is ‘n gesamentlike onderneming: Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13). Gelukkig hoef ons nie alles self te doen nie – alles berus nie op my eie pogings nie. God werk in ons om dit te bewerkstellig.

 

Heiligmaking is ‘n langdurige veranderingsproses waarin ons saam met die Heilige Gees moet werk om te groei.

 

  • Uiteindelike heiligmaking

Dit staan ook bekend as verheerliking. Die proses van heiligmaking word nie voltooi terwyl ons leef of voor Jesus se wederkoms nie. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Jesus Christus my reeds Syne gemaak het (Filippense 3:12). Gebeur dit ontvang ons nuwe geestelike liggame. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is (1 Johannes 3:2); Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Filippense 3:21). Dan is ons soos Jesus Christus.

 

Vrygekoop is ons wetlike status voor God as Hy ons vrygespreek het. Dit is God wat ons eens en vir altyd vryspreek – dit gebeur as ons ons bekeer. Heiligmaking, daarenteen, is die lewenslange werk van die Heilige Gees in ons wat ons geleidelik verander na die beeld van Jesus Christus.