Herlewing

Herlewing

Jonathan Edwards het geglo dat God se koninkryk vooruit gaan deur seisoene van herlewing. Daar word dikwels na sy werk en dié van George Whitefield verwys as die Great Awakening. Ons lees dat mense na Johannes die Doper gestroom het om gedoop te word. Jesus self het voor groot skares gepreek. In Johannes 6:10 (die vermeerdering van die brood) lees ons: Die mans alleen was omtrent vyf duisend.

 Daar was egter een herlewing wat so besonders was dat Johannes dit vir ons in groot besonderhede vertel. Dit gebeur by Sigar in Samaria en dit begin by een vrou. Hier leer ons ‘n paar lesse van herlewing.

  • Herlewing vind plaas as Jesus Christus ‘n plek besoek – op sy tyd en op sy verkose manier. Geen kennisgewings word opgeplak om ‘n hervormingsweek aan te kondig nie. Hy moes deur Samaria gaan (4:4).
  • Christus het nie die magtiges of invloedrykes nodig om ‘n gemeenskap te bereik nie. Hierdie naamlose vrou wat Hy by die put ontmoet, is die instrument wat Hy verkies. Dit was sy brug na die hele gemeenskap by Sigar. Haar getuienis was kort, maar die impak was geweldig. It is not much speaking, but much faith that is needed (Robert Murray McCheyne).

Harde grond word geploeg, elke verskoning word stilgemaak. Dan word die genade van Jesus Christus die grootste gawe in die wêreld. Dan word die Woord van God belangrik en ons praat instinktief van Hom. Dit is die begin van herlewing.

Elkeen van ons moet hieroor nadink. Ons is almal baie entoesiasties oor die oes, maar is ons bereid om te ploeg of nog erger: Is ek gewillig om geploeg te word?