Het ons belydenisskrifte nodig?

 

A person who is a good and true Christian should realize that truth belongs to his Lord, wherever it is found – Augustinus.

 

Het ons belydenisskrifte nodig?

As ons die Bybel het, waarom het ons nog belydenisskrifte nodig? Hierdie is ‘n vraag wat algemeen gevra word. Michael Bird (What Christians Ought to Believe) sê dat die belydenisskrifte nie alleen Bybels is nie, maar krities belangrik is om te weet  wat die Skrif oor God, Jesus, verlossing en die lewe wat kom, sê.

 

Dit is verstaanbaar dat moderne Christene huiwerig is om die belydenisskrifte te aanvaar. Meeste se enigste ondervinding van hierdie belydenisskrifte is ‘n eindelose herhaling. Hoekom is mense agterdogtig oor die belydenisskrifte? Hier is ‘n paar redes vir agterdog.

  • As ons aan esoteriese debatte oor tegniese teologiese jargon wat nie relevant is nie, blootgestel word.
  • As jy verward is oor die verband tussen die belydenisskrifte en wat die Bybel sê.
  • As jy glo dat belydenisskrifte net kerke verdeel

 

Dit is nie reg om te sê: “Ons glo net die Bybel” nie. Dit klink edel, maar daar is verskeie probleme. Kyk na al die verskillende kerke en dit is gou duidelik dat hulle nie saamstem oor wat die Bybel sê nie. Meestal is die verskille klein, maar soms is dit betekenisvol. As jy die Bybel glo, moet jy op een of ander stadium sê wat jy dink die Bybel sê. Wat sê die Bybel oor God, Jesus, verlossing en die eindtye? Belydenisskrifte sê wat jy dink die Bybel sê oor hierdie onderwerpe en dit is die goed wat werklik saakmaak. Hiermee stel jy die grense van jou geloof vas.

 

Ons kry belydeniosskrifte in die Bybel. In Deuteronomium 6:4 – 5 kry ons die sjema, Israel se beknopte belydenis van geloof in een God. Dit is hierdie geloof in een God wat hulle van die heidense gelowe onderskei het. Jesus en Paulus het beide hierdie belydenis bevestig (Markus 12:29; 1 Korintiërs 8:6).’

 

Gegewe hierdie konteks is dit verstaanbaar dat die vroeë kerk sy eie belydenisskrifte geformuleer het. Hierdie belydenisskrifte het gesê wat hulle glo die God van Israel reeds in Jesus Christus gedoen het en wat Hy nog in Hom gaan doen. Ons het dus reeds van kort na Jesus se opstanding mense wat ‘n kort opsomming van dit wat ons basies glo, opgestel het. Dit geld dan vir alle Christene oor die destydse Grieks-Romeinse wêreld.

 

Die algemene belydenisskrifte wat ons vandag gebruik, is Bybels en help ons om die Bybel beter te verstaan. Hulle vervang nie die Bybel nie, maar help ons om die Bybel beter te verstaan.