Het ons ons godsdiens afgewater? Die hemel?

God soon turns from his wrath, but he never turns from his love. —C.H. Spurgeon

Het ons ons godsdiens afgewater? Die hemel?

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Na Lasarus se dood praat Jesus met Marta en sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe Hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie (Johannes 11:25 – 26).

Die bekende Johannes 3:16 sê dat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. In Johannes 14:1 – 6 sê Jesus dat Hy na die Vader gaan en dat Hy gaan om vir ons plek gereed te maak. Hy kom later weer en dan sal Hy sy kinders kom haal sodat hulle ook kan wees waar Hy is. In Openbaring 21 sien Johannes ‘n gesig van die nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Dan sê ‘n stem uit die troon vir hom: Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die belangrikste stelling is sekerlik:Die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly. Die hemel is dus die plek waar die mens saam met God woon – vir ewig.

As ons glo dat daar ‘n hemel en hel is, verander dit die manier waarop ons hier op aarde leef, want ons weet dat hierdie wêreld nie al is wat daar is nie – die ewigheid lê nog voor. Die vraag is of ons Jesus se woorde oor die hemel en die hel glo. Glo ons dit kan ons die nuus tog nie vir onsself hou nie. Ons kan mos nie stilbly as ons sien mense loop die pad wat op die hel uitloop nie. Vertel ons dit vir ander? Hierna gaan ons die volgende keer kyk.