Hoe gebruik God lyding?

“‘For example’ is not the same as ‘proof.’” ~ Joodse spreekwoord

Hoe gebruik God lyding?

Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through pain and suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.

God gebruik lyding om my op te bou en my swakhede te verwyder.

  1. Lyding verander my gesindheid teenoor myself. Dit maak my nederig; dit stel my onrealistiese siening van myself reg; dit verwyder my trots; dit wys vir my hoe broos ek is; dit wys vir my hoe min beheer ek oor my eie lewe het; dit wys vir my dat ek nog altyd kwesbaar en afhanklik van God was. Lyding bring hierdie feite na vore en dwing my om daarvolgens te lewe. Lyding laat my myself weer ondersoek en laat my my swakhede raaksien, want lyding bring dikwels die slegste in my uit. In lyding sien ek my swak geloof, my skerp tong, my onsensitiwiteit teenoor ander mense, my bitterheid raak. Dan sien ek dat ek te krities, te ongeduldig, te hardkoppig, te impulsief is. Lyding lê my innerlike swakhede bloot en stel my in staat om aan hulle te begin werk.
  2. Lyding verander my verhouding teenoor die goeie dinge in die lewe. Ek sal sien dat sekere dinge vir my te belangrik geword het. Lyding is ‘n goeie geleentheid om meer hoop op God te stel en meer betekenis by Hom te kry. Lyding bring nuwe bronne van vreugde in my lewe – God, familie, vriende.
  3. Lyding kan my verhouding met God versterk. Lyding toets my verbintenis met God. Lyding kan my so kwaad vir God en die lewe maak dat ek geen begeerte het om te bid nie. Maar lyding kan ook my verhouding met God verdiep. As dinge met my goed gaan, weet ek nie of ek vir God of die dinge wat Hy vir my gee en doen, liefhet nie.as ek swaarkry en ly begin ek vrae vra. Lyding openbaar onsuiwerhede in my geloof. Dit is in lyding dat ek kan weet dat my verhouding met God opreg is.
  4. Lyding dwing my om te bid soos nog nooit vantevore nie. As ons aanhou bid, sal ons sy liefde en vreugde ondervind. Above all, keep close to the throne on grace in prayer. If we seem to get no good by attempting to draw near him, we may be sure we shall get none by keeping away from him (John Newton).
  5. Lyding is amper ‘n voorvereiste vir my as ek vir ander mense van nut gaan wees, veral as hulle deur hulle eie beproewings gaan. Teenspoed maak dat ek meer deernis met ander het. Lyding gee wysheid as ek dit reg hanteer – dit gee vir my insig in ander. Kyk na Paulus: Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat ons in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons ‘n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ‘n oorvloed van bemoediging deur Christus. As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle teen te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. En wat julle betref het ons ‘n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het (2 Korintiërs 1:3 – 7). Paulus se lyding dryf hom na God vir vertroosting. Daar kry hy nuwe insigte ten opsigte van God se lyding, heerlikheid, liefde. Wat doen hy met hierdie insigte? Hy deel dit met ander wat ook beproef word wat op hulle beurt weer ander help. Nou word die kerk ‘n gemeenskap van vertroosting waar jy in jou lyding ondersteun word. Daar groei ons deur ons probleme en word meer soos God wil dat ek moet wees.