Hoe hanteer ek lyding? (7)

 

Hoe hanteer ek lyding? (7)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Nie soos dit moet wees nie

Ons weet nou dat lyding ‘n werklikheid is. As ons dit erken, beteken dit nie dat ons ‘n gebrek aan geloof het nie.

Die hele skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het … die skepping self sal ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid (Romeine 8:19 – 22). Dinge is nie soos dit moet wees nie. Ons hoef nie pyn en lyding te ontken nie. Ons leef in ‘n gevalle wêreld en die enigste geneesmiddel is Jesus se kruisdood vir sondaars. God nooi jou uit om jou pyn en lyding te erken en te erken dat die wêreld gebroke is. Dit beteken nie dat jy ‘n slagoffer van omstandighede buite jou beheer is nie.

 

Eerlikheid is die deur na genade

God stel nie belang in wat jy dink jy behoort te wees en wat jy behoort te voel nie. Hy stel in jou belang – jy wat ly, jy wat veroorsaak dat ander ly, jy wat slegte en goeie dae het. Hy ontmoet ons daar waar ons is. Hy is die vriend van sondaars, die Verlosser van diegene wat een nodig het – dit is almal van ons te alle tye.

 

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Romeine 8:18). Dit beteken nie dat ons lyding moet ontken nie. Paulus sê dat lyding ‘n werklikheid is. Paulus minimaliseer nie hier lyding nie – hy maksimaliseer genade.