Hoe hanteer ek lyding? (11)

Hoe hanteer ek lyding? (11)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

Die teologie van die kruis nooi ons nie uit om oor die verborge dinge van God na te dink nie – waarom ek? Nee dit bring ons van aangesig tot aangesig met die lydende Dienaar self.

Daarteenoor staan diegene wat elke dag probeer om hulleself te verbeter.

Die teologie van die kruis beteken ons het altyd ‘n Verlosser nodig. Ons kom na God op ons knieë en met swaar harte, maar ons vind, tot ons verbasing, dat ons nie met advies of alledaagshede oor groei gekonfronteer word nie, maar met genade.

Die hoekom-vrae oor lyding is ingewikkeld. Lees ons van Job dink ons dat al wat ons nodig het, is om ons koppe reg te kry – ons lyding is tog klein in vergelyking met dié van Job. Ons soek maniere om pyn te hanteer, medisyne, minimaliseer, moraliseer. Ons ontwikkel teorieë om te verstaan wat met ons aangaan. Al hierdie dinge mag tydelike verligting bring. Die pad deur lyding is vertroue in God … nie verduidelikings van God nie.

Job se hoekom-vraag is nooit beantwoord nie. Hoekom nie? Sodat hy die Wie kon raaksien. Jesus + Niks = Alles. Nie Jesus plus ‘n verduideliking nie. Daar is niks soos lyding om ons te laat besef dat ons God nodig het nie. Lyding bring ons by die einde van onsself; dit bring ons by die plek van eerlikheid, die plek van desperaatheid wat die plek van geloof is wat die plek van vryheid is. Lyding breek ons afgode; ons sien dat God sy Seun gestuur het, nie om vir ons te ly nie, maar saam met ons. Hy mag ons dalk nie van pyn en lyding verlos nie, maar Hy stap saam met ons daardeur.

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hé nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebreërs 4:15 – 16)