Hoe hanteer ek lyding? (3)

How do we bring glory to God? The Bible’s short answer is: by growing more and more like Jesus Christ. —Sinclair Ferguson

 

Hoe hanteer ek lyding? (3)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

In this world nothing can be said to be certain, except death and taxes (Benjamin Franklin)

Lyding is oral – die dood van geliefdes, tsoenami’s, oorstromings, siekte, ens. Mense ly dieper en meer dikwels as wat hulle bereid is om te erken. Hulle ly al lyk hulle dikwels goed.

 Fisiese pyn en siekte is waarskynlik die sigbaarste vorm van lyding. Ons doen alles in ons vermoë om dit te vermy en agteruitgang te stuit. Job het pynlike swere gehad – pyn en ongemak. Nog ‘n vorm van lyding is ten opsigte van verhoudings. Jy word misverstaan, beledig, verwerp. Die oorsake mag klein wees, maar nie die gevoelens nie. Emosionele pyn is die risiko verbonde aan verhoudings wat skeefloop. Job het dit ook ondervind. Te midde van alles wat hy verloor het – huis, gesondheid, kinders en vee – vra sy vrou: Bly jy nog steeds vroom? Die persoon wat hy liefgehad het, sê vir hom: Vervloek God en sterf!  As daar iemand was wat Job in sy swaarkry moes bygestaan het, was dit tog sy vrou. Die gevoel van verlatenheid moes hom oorweldig het.

Asof dit nie genoeg was nie volg 31 hoofstukke gesprek tussen Job en sy vriende waarin hierdie vriende elke aspek van sy lewe uitmekaar skeur – hulle soek vir een of ander verborge sonde in Job se lewe. Dit sou dan die oorsaak van sy lyding wees. Hulle aanname: Niemand sal so swaarkry as hy nie iets gedoen het om dit te verdien nie.

Die mees tragiese gebeure in ons lewe – soos die dood van ‘n geliefde – het fisiese, emosionele en geestelike komponente. Verlies is verlies en dit maak seer. Maar die evangelie beskerm ons nie van pyn en lyding nie. Gelowiges gaan steeds pyn ondervind en ly. Die evangelie is die boodskap van God se redding deur en in my pyn. Die evangelie is nie ‘n formule om pyn te beveg nie; dit is nie ‘n handboek oor hoe om pyn en lyding te hanteer nie. Die evangelie is Jesus wat ons in ons hartseer ontmoet. Slegs die Heilige Gees kan vertroos in ons hartseer.

Beteken dit dat die Bybel ons nie help in lyding nie? Die boodskap van die kruis is ‘n boodskap van hoop en vertroosting. Kom ons kyk volgende keer verder.