Hoe herken ek geestelik-ontvanklike mense in my gemeenskap?

 

 “A single sunbeam is enough to drive away many shadows.” – Franciskus van Assisi

 

Hoe herken ek geestelik-ontvanklike mense in my gemeenskap?

Ons is almal deur grond omring – alle soorte grond. In jou gemeenskap het jy mense wat gereed is om op die evangelie te reageer en mense wat nie sal reageer nie. Jesus het dit vir ons in die gelykenis van die saaier geleer (Matteus 13). Soos verskillende soorte grond reageer mense verskillend op die evangelie. Almal is nie ewe gereed om Christus te ontvang nie.

 

Rick Warren sê dat as jy doeltreffend wil evangeliseer, jy jou energie op die regte tipe grond moet fokus – die grond wat ‘n honderdvoudige oes sal lewer. Die boodskap van Christus is te belangrik om tyd, energie en geld te mors op onproduktiewe metodes en grond. Ons moet ons pogings fokus op waar dit die grootste verskil gaan maak.

 

Geestelike ontvanklikheid kom en gaan in mense se lewens. Soms is hulle meer ontvanklik vir geestelike waarhede. Baie faktore beïnvoed geestelike ontvanklikheid. Wie is die ontvanklikste mense? Daar is veral twee breë kategorieë:

  1. Mense in oorgang

As mense groot verandering ondervind – positief of negatief – ontwikkel hulle ‘n honger na geestelike stabiliteit. Mense is meer ontvanklik vir die evangelie as hulle voor verandering te staan kom: ‘n huwelik, ‘n nuwe baba, ‘n nuwe huis, ‘n nuwe skool, ‘n nuwe werk …

 

  1. Mense onder spanning

God gebruik allerlei emosionele pyn om mense se aandag te kry: egskeiding, die dood van ‘n geliefde, werkloosheid, finansiële probleme, familieprobleme, eensaamheid, skuldgevoelens … As mense angstig is, soek hulle na iets groter as hulleself om die leemte in hulle lewe te vul.

 

Die groot voordeel om op ontvanklike mense te fokus is dat jy nie druk op hulle hoef uit te oefen om Christus te ontvang nie. As jy besef wie jou teiken is en wie die ontvanklikste mense is, is jy greed om ‘n strategie vir evangelisasie in die gemeente uit te werk.