Hoe het Jesus Hom in die evangelies bekend gestel? – Francois Malan

Fleetwood vra:

hoe het Jesus Homself in die Evangelies bekendgestel ?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Eintlik is dit die vier Evangelies wat vertel hoe Jesus Homself bekend gestel het, elkeen met sy eie beklemtoning.

 Markus wat die eerste Evangelie geskryf het, begin deur te sê dat Jesus Christus die Seun van God is (1:1) en vertel van twee keer dat God uit die hemel verklaar het: ‘Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My!’ (1:11); Dit is my geliefde Seun, luister na Hom (9:7). Die onrein geeste het ook uitgeroep: U is die Seun van God (3:11); ook die besetene: Los my uit, Jesus, Seun van die allerhoogste God…’ (5:7). Teenoor die skrifkenners wat sê dat die Christus die seun van Dawid is vra Jesus (12:35-36) hoe is dit dan dat Dawid self gesê het: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek U vyande onder u voete geplaas het (Ps 110:1). Toe die hoëpriester Hom vra ‘Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige het Jesus geantwoord: ‘Ek is! Julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel’ (14:61-62). Na sy oorgawe van Homself in die dood het die hoofman wat Hom gekruisig het, gesê: ‘Waarlik, hierdie man was die Seun van God!’ (15:39).

Maar Jesus noem Homself deurgaans ‘Seun van die Mens’ wat beteken dat Hy waarlik ’n mens is. Dit is die naam wat Daniël 7:9,13-14 in sy visioen oor die toekoms gesien het, van Hom wat ewig lewe en op sy troon gaan sit het met miljoene voor Hom vir die hofsitting en ewige oordeel. En daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n Seun van die Mens (‘n menslike wese). Aan die Seun van die Mens is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies  en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy; dit sal nie tot niet gaan nie.

In Markus noem Jesus Homself 10 maal Seun van die Mens:  2:10 die Seun van die Mens het volmag om op aarde sondes te vergewe; 2:28 die Seun van die Mens is ook Here van die Sabbat; 8:31 Die Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en skrifkenners verwerp en doodgemaak word, en na drie dae opstaan; 8:38 Wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige generasie, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy weer in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele;  9:31 die drie dissipels moet vir niemand vertel wat hulle op die berg van verheerliking gesien het voordat die Seun van die Mens uit die dood opgestaan het nie; 10:45 die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie; 13:21-27 met sy wederkoms sal hulle die Seun van die Mens met groot krag en heerlikheid op die wolke sien kom en die engele sal sy uitverkorenes versamel; 13:22 van die dag van sy wederkoms weet niemand nie, ook nie die Seun nie – net die Vader; 14:21 in Getsemane:  Kyk! die Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer; 14:62 julle sal die Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige.

Matteus gebruik Markus as een van sy bronne en praat ook van die Seun van God en van die Seun van die Mens net soos Markus. Maar Matteus vertel veral dat Jesus God as sy Vader aanspreek en die mense ook leer om God as Onse Vader aan te spreek (6:9). Vgl. 11:25-27 Ek loof U, Vader, Here van die hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies  bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe  die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak 26:39,42. In Getsemane bid Hy ook ‘My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil;’ 28:18-20: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde…Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

In Matteus kom die titel Seun van die Mens 30x voor. Dit verwys veral na sy nederige lewenswandel; sy lyding, sterwe en opstanding; en sy koms op die wolke. Die meeste van die verwysings wat net in Matteus voorkom gaan oor sy wederkoms (bv. 10:23; 13:41;16:28; 24:30).

Met sy gelykenisse (bv. in die hele Hoofstuk 13) verduidelik Jesus dat Hy die koning van die Koninkryk van die hemele is. Met sy genesings en wonders (bv. in Hoofstukke 8-9) bewys Jesus dat Hy God is. Met sy lering in Hoofstukke 5-7 bring Hy ’n ander dieper betekenis van die Ou Testament met ’n nouer verband met God en tussen mense, wat liefde vir jou vyand leer, soos sy hemelse Vader laat reën en sonskyn gee oor goeies en slegtes. Met sy profetiese rede in hoofstukke 24-25 wys Hy na sy wederkoms en dat Hy as Regter kom oordeel oor slegtes en goeies op grond van hulle optrede teen medemense. En Hy is die Heer oor sy kerk in hoofstuk 10.

Lukas maak ook gebruik van Markus as een van sy bronne en skilder Jesus ook as die Seun van die Mens en die Seun van God. Maar veral as die vervuller van Jesaja 61: dat die Gees van die Here op Hom is, wat Hom gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig, aan gevangenes vrylating, blindes dat hulle weer kan sien, onderdruktes te bevry en die genadejaar van die Here aan te kondig (4:18-21).  Lukas verkondig die koninkryk van God nie soos Markus hoofsaaklik as ’n oproep tot bekering nie (Mark 1:14), maar veral as die goeie nuus wat gekom het (16:16). Jesus is ’n bidder wat met sy Vader praat. In Lukas is daar 9 geleenthede waar Jesus gebid het (vgl. 3:21; 5:15-16; 6:12; 9:18-22,29; 10:17-21; 11:1; 22:31,41, 39-46; 23:34,46).  Lukas beskryf Jesus ook as die Verlosser wat vreugde bring, wat God se wil en plan uitvoer, wat sy aandag en liefde gee aan groepe wat nie geag was in die samelewing nie: vroue,  kinders, armes, verworpenes. In Lukas 11:2 leer Jesus sy dissipels om God in gebed nog meer intiem aan te spreek as Matteus se ‘Onse Vader.’ Volgens Lukas leer Jesus hulle om Hom aan te spreek as ‘Vader’ soos Jesus self sy Vader aangespreek het.

Johannes vertel in elke hoofstuk dat Jesus waarlik God is wat waarlik mens geword het (vgl. bv. 1:1-4; 14; 5:19-30;11:35; 17:1-8; 20:27). Jesus maak Homself bekend as die Seun van sy Vader, Hy alleen het uit die Vader uitgegaan 16:28; 17:8); dat Hy voor alles bestaan het 17:5; Hy alleen het besitreg oor alles saam met sy Vader 16:15; gestuur in opdrag en gesag van die Vader 3:17; 4:34; 5:23-24; 30, 36, 38; sy werke is die werke van die Vader self 5:17,19; 10:23; sy woorde is die Vader se woorde 14:24, ens. Hy en Vader is een 10:30; 14:10-11; 20; wie hom sien, sien die Vader.  Jesus is self God, dit sê al die ‘Ek is’ uitsprake deur Hom 4:26; 6:20; 8:24,28,58; 13:9; 18:5 (die verwys na die Naam van God wat Hy aan Moses geopenbaar het in Eksodus 3:14). Maar Jesus is ook ware mens 1:14; 4:6; 11:33-36; 12:27; 19:16-17; 21:5,13. Sy selfbenaming in Lukas is ook ‘Seun van die Mens’ soos in die ander Evangelies. Hy stel Homself bekend as die Goeie Herder en die deur vir die skape (10:7,14), as die brood van die lewe wat ewige lewe gee (6:35,51), die Messias wat Christus (Gesalfde) genoem word (4:25-26), die weg en die waarheid en die lewe, die enigste Persoon deur wie mense tot die Vader kan kom (14:6), die opstanding en die lewe (11:25), die lig vir die wêreld (8:12), sodat elkeen wat in Hom glo, nie in die duisternis sal bly nie (12:46), met sy grootste liefdesoffer aan die kruis vir die sonde van die mens trek Hy almal na Hom toe (12:32-33). Hy was die voete van sy dissipels as ’n voorbeeld van nederige diens vir al sy volgelinge  (13:3-17). Hy is die egte druiwestok.  As ons in Hom bly dra ons baie vrug want sonder Hom kan ons niks doen nie (15:1-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan