Hoe is die eerste Christene gedoop? Onderdompel of besprinkel, groot of klein? Nuutste navorsing onthul

Hoe is die eerste Christene gedoop? Onderdompel of besprinkel, groot of klein? Nuutste navorsing onthul – Kobus Kok

In die Buite Bybelse (apokriewe) boek “Die Didagé” word daar vir ons gewys hoe die vroegste Christene die doop benader het teen die einde van die eerste eeu tot en met die eerste helfte van die tweede eeu.

doop1Dit verteenwoordig van die vroegste getuienis wat ons het oor die lewe en gewoonte van die vroeë Christene. Die Didagé is in 1875 ontdek deur Breyennius in Konstantinopel nadat hy antieke Griekse manuskripte in die biblioteek van die Klooster van die Heilige Graf in Jerusalem ontdek het. Die Didagé was een van die manuskripte. Volgens geleerdes dateer die inhoud van die Didagé uit ‘n tyd tussen 100-150 n.C., ‘n tyd wat baie naby is aan sommige boeke wat ons vandag in ons Bybel het.

 

In Didagé 7:1-4 gee die skrywer raad oor hoe daar gedoop moet word. Hy sê:

“Met betrekking tot die doop, moet julle soos volg doop: “Vertel vir diegene wat gedoop gaan word allerleers hoe hulle behoort te lewe, en doop hulle dan in die naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees. Doop hulle in lewende/lopende water. Indien daar nie lopende water is nie, doop hulle dan in stilstaande water. As jy nie in koue water kan doop nie, doop hulle dan maar in warm water. Indien daar nie warm of koue, lewende of stilstaande water is nie, gooi dan drie maal water oor die persoon se kop uit, in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dit is belangrik dat die persoon wat gedoop gaan word voor die tyd moet vas. Die een wat gedoop word en al die ander wat betrokke is by die doop moet ook vas. Die een wat gedoop gaan word, moet een of twee dae voor die tyd vas”

Nuutste navorsing onthul

Onlangs het daar ‘n uitstekende boek verskyn deur Everett Furguson (2009) oor die doop. Prof Ferguson is ‘n wêreldbekende geleerde in Amerika wat al vir meer as 50 jaar op die vroeë kerklike geskiedenis navorsing doen. Die boek se titel is: “Baptism in the Early Church: History, Theology and Liturgy in the first five centuries“, waar Ferguson die ontwikkeling van die doop in die eerste 5 eeue van die vroeë kerk bestudeer. In sy boek bekyk hy ook die voorgeskiedenis van die doop as verskynsel, nie net in die Joodse geloof nie, maar ook in die heidense gelowe. Ons moet in gedagte hou dat die doop as ritueel nie iets is wat die eerste keer uit die bloute uit gedoen is nie. Doop-rituele was praktyke wat vir eeue al in gebruik was. In die Christelike konteks kry die Christelike doop egter ‘n ganse nuwe betekenis! Tog was die praktyk van rituele wassing vir die antieke mense ‘n bekende gebruik in religieuse konteks.

Ferguson het ‘n interessante hoofstuk rondom pp 130 van sy boek waar hy voorbeelde gee van die doop in vroeë Christelike kuns, asook verskeie doopvonte wat in die argeologie na vore gekom het. In beide die kuns en die doopvonte sien ons hoe die vroeë kerk met die doop omgegaan het en hoe dit in verskillende kontekste verskil van mekaar.  Hierdie boek beslaan amper 1000 bladsye, en sal ‘n standaard verwysingsbron oor die doop in die vroeë kerk word.

 

Bo is ‘n voorbeeld van ‘n  vroeë Christelike kuns uitbeelding waar iemand gedoop word. Let daarop dat die water van bo af op die persoon gegooi word!

doop2

Ek was onlangs in Griekeland en het onder andere Filippi besoek, die stad waar Paulus die eerste kerk op Europese bodem geplant het. Dit was in Filippi waar Paulus vir Lidia en haar hele huisgesin in ‘n rivier gedoop het (Hand 16:11-15). Ons was ook daar by die plek waar Lidia en haar huisgesin volgens oorlewering gedoop is. Die doopvont  wat u in die foto sien is vandag oor die stroompie gebou, in die vorm  van ‘n kruis.

So entjie daarvandaan, naby die tronk van Paulus is daar die oorblyfsels van ‘n vroeë kerk met ‘n doopvont, ook  in die vorm van ‘n kruis, wat 1.5 meter diep was. In ‘n ander kerk het ons ook ‘n doopvont gesien soos die tipiese een wat ons vandag in die NG Kerk sien wat net vir beskrinkeling gebruik kon word.  Skaf gerus die boek van Ferguson aan om die teologiese ontwikkeling en gebruike rondom die doop in die eerste vyf eeue te bestudeer. Dit is geweldig interessant. Nadat u die boek bestudeer het sal u verstaan hoekom ons vandag doen wat ons doen en waar die misverstande dikwels intree.

 

 

 

Bronne:

  • Van der Watt, J.G., & Tolmie, F., Apokriewe Ou en Nuwe Testament, CUM, pp. 766-767
    • Ek verwys diegene wat oor die doop vrae het graag na die goeie artikel van Prof Adrio König wat op die webblad verskyn (http://www.bybelkennis.co.za/Die-Groot-Geloofswoordeboek/Die-Groot-Geloofswoordeboek-Doop.html ). Prof Konig het ook ‘n boek geskryf oor die doop wat op die Suid Afrikaanse gehoor gemik is. Daar is ook baie ander artikels op ons webtuiste wat reeds oor die tema van die doop verskyn het. Druk gewoon “doop” in die soekfunksie en u sal ‘n hele aantal artikels vind.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok