Hoe lees ek daagliks die Bybel?

 

Integrity is doing the right thing, even when no one is watching.” (C. S. Lewis)

 

Hoe lees ek daagliks die Bybel?

In Matteus 4 lees ons van Jesus se versoeking in die woestyn. Jesus was honger, want vir veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie. Die Satan kom by Hom: As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.  Dit moes ‘n groot versoeking gewees het, maar Jesus antwoord: ‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Selfs in sy honger toestand is geestelike voedsel vir Jesus belangriker as fisiese kos.

 

Ons het dikwels ‘n stryd om gereeld Bybelstudie te doen. Maar as Jesus sê om te hoor wat God sê belangriker is as ons daaglikse kos, kan ons dit tog nie verwaarloos nie. Hier is ‘n paar basiese idees om ons met daaglikse Bybelstudie te help.

 

  1. Beplan ‘n gereelde tyd en plek in jou daaglikse skedule

In ons besige lewens gaan Bybelstudie verlore tensy dit in ons daaglikse skedule gestruktureer is. Vir party mense is dit vroeg in die oggend. Ander mense sukkel om wakker te word en daarom doen hulle dit later. Maak nie saak wanneer jy dit doen nie, maar skeduleer dit sodat jy seker is dat dit sal gebeur.

 

  1. Doen dit met iemand anders

Dit beteken dat jy iemand moet kry wat op dieselfde skedule as jy is en wat jy gereeld sien. Kontroleer hoe dit gaan en wat jy geleer het. Dit beteken ingeboude aanspreeklikheid, maar dit gee ook die geleentheid vir dialoog oor wat jy geleer het. Jy lees baie versigtiger as jy weet dat jy ‘n gesprek met iemand gaan hê oor wat jy gelees het. Jy sien ook nuwe dinge in die teks wat jy nie op jou eie raakgesien het nie.

 

  1. As jy nuut is hiermee hou dit kort en eenvoudig

Dit hoef nie super-lank of super in diepte te wees nie. As jy sukkel moenie met kommentare  of groot stukke teks begin nie. Begin eenvoudig en bou daarvandaan op. ‘n Bietjie is beter as niks en dit gee aan jou ‘n plek vanwaar jy kan bou.

 

  1. Ontwikkel ‘n sisteem om dit wat jy leer op te som en te onthou.

As ek halfpad deur die dag nie kan onthou wat ek die oggend gelees het nie, het ek nie reg daaraan laat geskied nie – ek het nie werklik God se woord verteer nie. Daarom moet ek ‘n sisteem hê om te onthou. Om ‘n opsomming van die gedeelte neer te skryf help baie – veral as jy dit gedurende die dag herhaal en bid. Dit moet iets tasbaar wees om aan vas te hou. Dit help ook met kontinuïteit die volgende dag.

 

  1. Implementeer ‘n struktuur vir gebed en toepassing

Dit is nie maklik nie – veral nie vir sekere gedeeltes uit die Ou Testament nie. Probeer om elke individuele teks in die groter storie van die verlossingsgeskiedenis in te pas. Bryan Chappell (Christ-centered Preaching) vra twee vrae:

  • Wat openbaar hierdie gedeelte oor die menslike natuur wat bekering noodsaak?
  • Wat openbaar hierdie gedeelte oor God se aard wat bekering voorsien?

Hierdie is ‘n goeie beginpunt. Dan word ek diep bewus van hoe nodig ek werklik vir Christus het. Ek dank Hom en vra dat Hy my verder op sy pad sal lei.

 

In elke hoekie van die Bybel is daar iets uniek – ‘n unieke bydrae tot die openbaring van die Bybel. Daar word geen spasie in die Bybel vermors nie.

‘n Mens leef … van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4).