Hoe oorleef jy teen ‘n groot oormag?

 

The opposite of love is not correction but indifference. —Anthony Thiselton

 

Hoe oorleef jy teen ‘n groot oormag?

Soek jy ‘n waarborg vir veiligheid? Wil jy absoluut seker wees dat jy en jou geliefdes veilig sal wees? God het Israel in Kanaän geplaas sodat hulle die land met sy heerlikheid kon vul. Maar die volk het dit nie gedoen nie. Toe het God, soos Hy aan Moses belowe het, hulle uit die land in ballingskap gedryf. Die 70 jaar, soos Jeremia geprofeteer het, gaan verby en God roer die hart van Kores. Net soos van die profete voorspel het, word die ballingskap deur ‘n nuwe eksodus gevolg – die Israeliete keer terug na hulle land.

 

Terug in Kanaän vier die Israeliete die huttefees (Esra 3:1 – 6). Dit is ‘n fees wat God se voorsiening van die volk in die woestyn herdenk. Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom. Die terugkerendes verlaat hulle huise om na Jerusalem te kom. Hulle huise staan leeg en is kwesbaar. Hoekom doen hulle dit? Om God te gehoorsaam. Dit is beter om God te gehoorsaam en te aanbid as om dit wat jy dink veilig is, te doen.

 

Wat gaan doen hulle in Jerusalem? Hulle bou weer die altaar van God op. Ons lees: Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar  op sy oorspronklike plek opgerig. Hierdie mense ken die Bron van hulle veiligheid – nie getalle of mag of afgode nie – maar die enigste, ware en lewende God.

 

Wat doen hulle toe die altaar klaar gebou was? Hulle bring offers vir die Here. Hierdie mense het uit die geskiedenis van Israel geleer. Al hulle vertroue op mense het tot die ballingskap gelei. Hierdie terugkerendes het geleer wie hulle kan vertrou en wie nie.

 

Daar is net Een wat ons kan beskerm. Daar is net Een wat ons veiligheid kan waarborg. Daar is net Een wat jou welstand kan verseker. Daar is net een lewende en ware God. Is dit hoe ons reageer op gevaarlike toestande en die “plesier” wat ons moderne kultuur aanbied? Ons moet op gevaar, intimidasie en versoeking reageer deur God te aanbid. Hiermee verklaar jy God se mag om jou te red.

 

In hierdie gedeelte lees ons van die vrees van die terugkerende ballinge. Hulle roep nie vir Kores om te help nie; hulle wend hulle nie tot afgode nie. Hulle soek hulp op die enigste plek waar hulle dit kon kry – by God. Hulle begin aanbid en aanbid volgens die wet van Moses.

 

Waar soek ons ons veiligheid?