Hoe praat God met ons – Hermie van Zyl

Franci vra:

Praat God met ons deur die Heilige Gees of sal Hy ’n boodskap vir iemand anders gee met die opdrag om dit vir jou te skryf soos God dit aan haar woord vir woord dikteer?

Antwoord

Prof Hermie van zyl antwoord:

Agter die vraag hierbo lê daar waarskynlik ’n spesifieke verhaal waarvan die detail nie aan ons bekend is nie. Maar in die algemeen is daar twee dinge wat ’n mens hieroor kan sê.

Eerstens, dis nie vreemd dat God deur middel van ander mense met ons kommunikeer nie. Die Bybel is vol daarvan. Die profete wat in die Bybel optree, was eintlik niks anders nie as God se spreekbuise wat sy wil aan die volk in die geheel of aan individue oorgedra het. Die klassieke voorbeeld in laasgenoemde geval is sekerlik toe die profeet Natan God se boodskap wat Hy aan dié profeet bekendgemaak het, aan koning Dawid moes gaan oordra (lees 2 Samuel 12). Dawid het gesondig deur owerspel met Batseba te pleeg en boonop haar man, Urija, op ’n slinkse wyse om die lewe te laat bring. Dit was verkeerd in die oë van die Here. Daarom stuur God sy profeet Natan om aan Dawid die verhaaltjie te vertel van ’n ryk man wat ’n ete vir ’n besoeker wou aanbied, maar te suinig was om een van sy eie kleinvee of beeste, waarvan hy baie gehad het, te slag. Toe steel hy ’n arm man se enigste ooilammetjie en slag dié vir die besoeker. Hieroor was Dawid baie ontsteld en roep uit: “dié man moet doodgemaak word.” Waarop Natan vir Dawid sê: “Jy is die man.” Dawid het toe bitter rou gehad en sy sonde erken en bely.

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Ons leer dat daar nie ’n teenstelling is tussen die Heilige Gees wat met ons praat en mense wat met ons praat nie. Dis een en dieselfde ding. Natuurlik is dit so dat slegs die Heilige Gees mense se harte kan verander, soos in Dawid se geval. Maar dit staan nie teenoor mense wat met ons praat nie. God gebruik juis mense sodat sy Gees met ons kan besig raak. Trouens, dis die normale manier hoe die Heilige Gees met ons praat. Hoe anders sal ons die stem van die Gees hoor as dit nie langs die weg van God se menslike boodskappers is nie? Natuurlik, God gebruik ook ons gewete om ons aan te spreek, maar dié is soms so toegeskroei dat ons nie God se stem hoor nie. En dan vat dit iemand soos ’n pastoor, predikant, familielid of vriend(in) wat die moed het om ons direk aan te vat voordat God se stem tot ons deurdring. En as die skoen dan pas, moet ons dit aantrek, al word ons kwaad.

Ongelukkig is die Bybel ook vol van mense wat nié die stem van God hoor in die stem van menslike boodskappers nie. Neem nou maar die farao van Egipte wat nie na Moses geluister het nie toe dié God se boodskap oorgedra het dat die farao die Israeliete moet vrylaat om na Kanaän te trek. Dit het katastrofale gevolge vir Egipte ingehou. Al die plae volg toe – tien van hulle – totdat die farao uiteindelik instem nadat al die eersgeborenes van Egipte gesterf het. (Lees hierdie aangrypende verhaal in Eksodus 7-12). En so ook die volk Israel later onder die konings. Die meeste van die konings was goddeloos, waarop God sy profete opwek om die konings en die volk aan te spreek oor hulle sondes en op te roep tot bekering. Maar hulle wou nie luister nie, en uiteindelik loop genadetyd uit en laat God toe dat Israel in twee ballingskappe weggevoer word, in die 8e en 6e eeu voor Christus. As hulle tog maar net wou luister na die stem van God wat deur die profete gespreek het, maar hulle wou nie. Dieselfde gebeur met die Jode later in die tyd van Jesus. Volgens Matteus 23:37-38 roep Jesus uit dat Jerusalem die boodskappers van God doodmaak wat na die stad gestuur word, in stede daarvan om na hulle te luister. Jesus wou hulle so graag beskerm soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak, maar hulle wou nie. En nou word die stad vir hulle woes agtergelaat. In 70 nC is Jerusalem dan ook deur die Romeine verwoes.

Maar tweedens, daar is ook ’n ander kant aan ons vraagsteller se vraag wat moet aandag kry. Dit is wel so dat die normale manier waarop die Heilige Gees met ons praat, deur mense is, soos hierbo verduidelik. Maar ongelukkig is dit ook so dat daar selfaangestelde boodskappers van God is wat aanspraak maak op direkte Goddelike inspraak, maar eintlik maar net hulle eie voorkeure en idees op ander wil afforseer. Dis die bemoeisiekes. Hulle hou veral daarvan om dinge te dramatiseer en dit dan in “God-speak” oor te dra. Hulle voel hulle woorde dra dan meer gesag. En ek wonder of dit nie dalk die geval is in ons vraagsteller se situasie nie. Ons het dalk met die volgende scenario te doen.

Die verhouding tussen ons vraagsteller en ’n vriendin het moontlik versuur. Of daar is iets in ons vraagsteller se persoonlikheid of optrede wat die vriendin nie aanstaan nie, wat sy selfs as sonde beskou. En nou kom die vriendin na ons vraagsteller toe, gewapen met die aanspraak dat God direk met haar gepraat het en die opdrag gegee het dat sy dit woord vir woord moet neerskryf en aan ons vraagsteller moet oordra as komende van God.

Maar ’n mens moet kan onderskei tussen iemand wat eg en met goeie bedoelings met jou kom praat en iemand wat net bemoeisiek is en met allerlei hoë aansprake by jou aankom. Soos reeds genoem, daar is ongelukkig mense wat daarop aanspraak maak dat hulle allerlei visioene of insprake van God kry en dit dan op ’n arrogante wyse oordra, dikwels so dat hulle net hulle eie idees en belange dien. Dis dan dat hulle graag sê dat hulle boodskappe van God oor iets of iemand gekry het en dit nou woordeliks kom oordra, dikwels ook met die aanhaal van Bybeltekste. Maar hierdie “boodskappe van God” is dikwels net ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër trappie as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, sodat ’n skaakmat-situasie ontstaan: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een? Nee, die aangewese roete om te volg as jy regtig bekommerd is oor iemand se geestelike welstand en verhouding met God, is om ’n oop en eerlike gesprek met die ander te hê waar die ander die gevoel kry dat jy haar nie met sogenaamde “direktiewe” van God konfronteer nie, maar rustig gesels, as een sondaar teenoor ’n ander, en so toelaat dat die Heilige Gees die oortuigingswerk doen. Want jy kan in elk geval nie ’n ander se hart verander nie, net God kan.

Om dus saam te vat: dit kan wees dat die situasie met ons vraagsteller is soos die scenario sopas geskets. Dan kan ons vraagsteller die situasie met wysheid hanteer, in die lig van my verduideliking hierbo. Maar dit kan ook wees dat die geval nader is aan die situasie soos by die eerste verduideliking, en dan pas eerlike selfondersoek beter.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl