Hoe sien ons die wêreld?

 

Silence in the face of evil is itself evil – Bonhoeffer

 

Hoe sien ons die wêreld?

In 1969 het die neuroloog, Oliver Sacks, ‘n boek Awakenings gepubliseer. Dit is ‘n verhaal van ‘n eksperiment wat hy gedoen het. Hy het die middel L-dopa aan pasiënte wat al vir dekades katatonies was, gegee. [Katatonie = ‘n Vorm van kraksinnigheid gekenmerk deur abnormale spierspannings en stereotipe bewegings – HAT.] Die resultate was dramaties. Die pasiënte het letterlik “wakker” geword. Hulle het beter verstaan en op ‘n hoër vlak gefunksioneer en gekommunikeer. Hulle het ‘n wêreld ontdek wat baie verander het sedert hulle oorspronlike siekte.

 

Die resultate was tydelik. Al die pasiënte het mettertyd teruggeval in stilte of hulle het ander mediese toestande ontwikkel. In daardie venster van duidelikheid het hulle die wêreld gesien soos dit werklik is. Hulle het die wêreld met al sy wonder, lyding, vrees en blydskap wat aan die lewe sy grootsheid gee, ervaar.

 

Wat moet ons as gelowiges doen om vorentoe te gaan? Begin deur aan daardie pasiënte te dink. Ons moet mekaar wakker maak om ons volk en die wêreld te sien soos hy werklik is – die goeie en die slegte. Ons moet mekaar ondersteun in die werk wat ons saam vir sy koninkryk doen. Ons moet mekaar as vriende en nie as vyande of vreemdelinge behandel nie. Ons moet uit mekaar se suksesse en mislukkings leer. Ons moet, anders as Sacks se pasiënte, mekaar help om nie terug te val in die alledaagse lewe nie.

 

Dit is belangrik vir ons en ons land se integriteit om te veg vir ons oortuigings – in die openbaar. Ons grootste taak is om dit wat ons glo uit te leef – liefde vir God en ons naaste, vrygewigheid aan die armes, eerlikheid in ons verhouding met ander mense, dissipline en nederigheid.

 

Klink na vroom praatjies. Probeer hulle uitleef. Dan sien ons dat hulle iets kos en moeilik is. Maar ons skep ‘n kultuur van waardigheid as ons vir ander leef. Volke verander as mense verander. Mense verander deur die getuienis van ander mense. Ons maak die toekoms – storie vir storie deur die keuses wat ons maak.