Hoe verstaan ek Bybelse geloof

 

Every time you smile at someone it is an action of love, a gift to that person, a beautiful thing. Moeder Teresa

 

Hoe verstaan ek Bybelse geloof

Baie mense sukkel om geloof te verstaan. As jy geloof wil verstaan moet jy in terme van verhoudings dink. As ons van Bybelse geloof praat, praat ons van vertroue – vertroue gebou op ‘n verhouding met God deur sy Seun, Jesus Christus.

Kom ons kyk na ‘n aantal oorwegings.

  1. Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1 – 2)
  2. Geloof glo al maak dit geen sin om te glo nie. Jy glo, nie oor die bewyse voor jou nie, maar as gevolg van jou vertroue in die voorwerp van jou geloof.
  3. Geloof berus in die wil van die persoon in wie jy jou geloof plaas – nie my eie wil nie. Jy kan, as voorbeeld, glo dat die persoon vir wie jy lief is jou nooit sal seermaak nie, maar of hulle dit doen of nie, is hulle wil nie myne nie.
  4. Bybelse geloof is in ‘n persoon – die drie-enige God. Geloof is nie in myself en my vermoëns nie, maar in God en sy vermoëns.
  5. Toe Jesus die illustrasie van berge verskuif, gebruik het, gee Hy vir ons ‘n voorbeeld van God se mag en waarom ons al ons vertroue in Hom moet plaas. Hy praat nie van die krag van my vermoë om te glo nie, maar oor die krag van Hom in wie ons ons geloof geplaas het.
  6. As ons van geloof in God praat, praat ons van sy wil. Jesus leer ons om te bid: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel (Matteus 6:10). Geloof berus op God se agenda. Ek kan nie berge verskuif nie – God kan. Ons kan geen eise aan God stel nie.
  7. Geloof berus op die beloftes en karakter van God – nie op ons hoop en begeertes nie. As ons sukkel met geloof betwyfel ons nie ons vermoëns nie, maar God s’n. Ons raak ontsteld omdat God nie gedoen het wat ons gedink het Hy behoort te doen nie. Jy kan God se karakter vertrou – sonder voorbehoud. Hy doen altyd wat die beste vir ons is. Ons verstaan nie altyd waarom God sekere dinge doen nie, maar ons kan seker wees dat Hy in liefde optree.
  8. Daar is sekere dinge wat ons kan aanvaar dat God dit sal doen, want Hy het belowe om dit te doen – Hy sal ons altyd liefhê; Hy sal alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet (Romeine 8:28); jy hoef jou nie te bekommer nie (Matteus 6:25); en vele meer. Ons kan egter nie aanvaar dat God elke siekte sal genees nie, want Hy het dit nooit belowe nie.
  9. God is betroubaar. Hy wat jou roep, is getrou (1 Tessalonisense 5:24). Hy sal doen wat Hy belowe het om te doen.
  10. As my geloof in lyn is met God se wil, kan jy aanvaar dat sy wil gedoen sal word. Dit is belangrik om God persoonlik te ken sodat ons sy wil kan ken en weet hoe om volgens sy wil te bid.

 

Jy kan vir God enigiets vra en jy moet. Bid voortdurend; vertrou dat God sy beloftes sal nakom. Die wete dat Hy dit sal doen, bemoedig ons. Om Bybelse geloof te verstaan, is krities vir geloofsgroei. Lees net weer die hoofstuk oor geloof – Hebreërs 11.