Hoe verstaan ek die Ou Testament?

 

Why should we proclaim the wisdom of men when we have the privilege of preaching the Word of God? —John MacArthur

 

Hoe verstaan ek die Ou Testament?

Mel Lawrenz is besig om hierdie vraag te antwoord. Vir baie mense is die Ou Testament moeilik en uitdagend.

 

As iemand jou sou vra wie jy is, sal jy by die begin begin – jou geboorte, jou ouers, jou geboortedorp … As jy iemand werklik wil verstaan, moet jy tot die begin teruggaan. Daarom begin die Bybel met In die begin … Hierdie boek is ‘n deel van God se groter storie. Dit gaan nie net oor ‘n reeks gebeure nie. Dit is ‘n teologie oor God se bedoeling om die mensdom te maak, die sondeval in hierdie mensdom en oor God se manier om hierdie mensdom weer te herstel. Hy begin met een man en een stam.

 

In die begin het God die hemel en die aarde geskep – met ander woorde alles. Wat leer ons hieruit? Daar is een God wat gekies het om te skep. Onmiddellik skakel ons ‘n paar moontlikhede uit – geen god nie (ateïsme), baie gode, ens. In baie van die ander antieke godsdienste was daar ‘n god wat met die son, maan, sterre, seemonsters, wat ook gode was, gekompeteer het. In Genesis is God die Skepper van alles. Hierdie is ‘n perspektief wat dwarsdeur die Skrif voorkom. Daar is net twee kategorieë in die heelal: die Skepper en die skepsels; een God en al die ander.

 

Daar is orde in die skepping God skep deur te praat en dan beveel hy hoe hierdie skepping moet werk. Daar is harmonie en orde in die skepping. Daarom moet ons nie dink dat die wetenskap en die Bybel mekaar uitsluit nie. Wetenskap berus op die vermoë om te voorspel hoe dinge sal wees, want daar is orde en voorspelbaarheid in die natuur.

 

Genesis plaas die mens op die kruin van die skepping. In meeste ander godsdienste is die mense slawe van die gode. Dat die mens na die beeld van God gemaak is, bevestig die waarde en waardigheid van die mensdom. Daarom is die sondeval so tragies. Genesis beskryf die begin van sonde as toegee aan die versoeking om hoër te styg as die plek wat God aan hulle toegeken het – om te dink dat hulle beter weet as God en daarom nie sy opdragte hoef te gehoorsaam nie.

 

Die grootste deel van Genesis (Hoofstuk 12 – 50) vertel die verhaal van die aartsvaders van Israel: Abraham, Isak Jakob en Jakob se seuns. Dit is God se mense – ‘n besondere nasie wat God gebruik op besondere maniere om universele beginsels neer te lê.

 

In die Nuwe Testament interpreteer Paulus Genesis as hy die kern van Abraham se storie beskryf: Genade deur geloof. In Genesis sien ons die grootheid van God, die waardigheid en tragedie van die mensdom en die stap vir stap manier waardeur een nasie lesse leer wat vir almal van ons geld. Genesis dek die tafel vir die hele Skrif – dit bevat die DNA van God se mense.

 

As iemand jou vra om te sê wie jy is, kan jy by Genesis begin.