Hoe weet ek ek is gered?

While thousands, careless of the damning sin,

Kiss the book’s outside who ne’er look within

William Cowper

Hoe weet ek ek is gered?

JD Greear sê dat hierdie ‘n algemene vraag is wat Christene vra. Daar is ‘n gedeelte in 1 Johannes 5 wat ons hier help. Ek gebruik Die Boodskap.

  • Ons het al ons hoop op verlossing op Jesus Christus geplaas
  • Die evangelie verseker ons deur te verkondig “Jesus in my plek” – nie hoe goed of hoeveel ek gedoen het nie. Die vraag is nie of ek ‘n spesifieke gebed gebid het nie, maar: “ Rus ek in Jesus?” Johannes skryf nie aan mense wat die sondaar se gebed gebid het nie, maar aan diegene wat glo in Jesus Christus. Dit gaan nie oor die gebed wat jy gebid het nie, maar oor jou huidige posisie.

  • Jy het ‘n nuwe natuur (vers 16 – 18)
  • As jy weergebore is, ontvang jy ‘n nuwe natuur. Hierdie nuwe natuur kom met nuwe begeertes. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie, want jy het nou nuwe begeertes. God verander ons, nie deur ons onder allerhande reëls toe te gooi nie, maar deur vir ons ‘n nuwe hart te gee. Jy hou nie meer van oneerlikheid of onsedelikheid nie. Jy vermy hulle, nie weens dreigemente van God nie, maar omdat hierdie dinge nie vir jou meer begeerlik is nie.

    Dit beteken nie dat jy onmiddellik volmaak is en glad nie meer stry met sonde nie. Jy sondig nie meer willens en wetens nie. Jy kan nie God liefhê en ook die dinge wat Hom seermaak nie. Jy kan nie met jou mond God loof en met jou lewe Hom kruisig nie. My liefde vir God blyk duidelik uit my lewe.

    En as jy terugval in sonde – iets wat ons almal doen – beskerm Christus ons. Een van die tekens dat jou verlossing eg is, is dat al val jy jy nooit permanent val nie. God bring jou keer op keer terug. ‘n Gelowige staan elke keer na ‘n terugslag weer op (Spreuke 24:16).

    Jou nuwe natuur word nie gekenmerk deurdat jy nooit val nie, maar deur wat jy doen as jy geval het. Verlossing beteken nie dat ek volmaak en sonder sonde is nie – dit beteken wel ‘n nuwe rigting.