Hoekom het die Bybelskrywers geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het?

 

For never does a man feel the hand of God more closely upon him than when he calls to mind the years of his past life – Martin Luther.

 

Hoekom het die Bybelskrywers geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het?

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Hoekom het die Bybelskrywers geglo dat Jesus uit die dood opgestaan het? Hierdie oortuiging spruit veral uit twee dinge:

  • Hulle ontdekking daardie Sondagmôre dat die graf leeg was.
  • Hulle ondervinding dat Jesus aan hulle verskyn het.

Die skywers was absoluut daarteen dat Jesus aan hulle sonder ‘n fisiese liggaam verskyn het – Hy was nie ‘n gees of ‘n spook nie. Lukas maak dit duidelik dat toe die dissipels Jesus vir die eerste keer na sy opstanding gesien het, hulle gedink het dat Hy ‘n spook was totdat Jesus hulle uitgenooi het: Kyk na my hande en voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie (Lukas 24:39). Later sien ons dat Hy ‘n stuk gebakte vis geëet het.

 

Die dissipels was ook oortuig dat die Persoon wat aan hulle verskyn het dieselfde Jesus was voordat Hy aan die kruis gesterf het. Jesus sê vir Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig (Johannes 20:27). Hy was dieselfde Jesus wat gekruisig was.

 

As al wat hulle gehad het die leë graf was, sou hulle weggeloop en hulle koppe gekrap het, maar dit is onwaarskynlik dat hulle tot die gevolgtrekking sou kom dat Jesus lewe. Daar was te veel alternatiewe: grafrowers, hulle soek op die verkeerde plek vir sy graf, verdere vergelding deur die Romeine, ens. Maar die leë graf plus Jesus se verskynings na sy opstanding is oortuigend. Soos die engel gesê het: Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het (Matteus 28:6). Dit is die rede waarom hulle uiteindelik gesterf het – hulle het geglo dat Jesus uit die dood opgewek is.

 

As dit nie ‘n opstanding was nie, wat was dit dan? Ons kan nie voorgee dat niks gebeur het nie. Iets het gebeur, want dit het skokgolwe deur die wêreld en die geskiedenis veroorsaak. Wat ook al gebeur het, het veroorsaak dat hulle die struktuur van hulle wêreldsiening verander het. Hulle glo dat hierdie gekruisigde Jesus die langverwagte Messias was; dat Hy die Seun van God was; dat Hy die Koning van die konings is wat eendag sy mense sou verlos. Omdat hulle hierdie dinge geglo het, het hulle hulle lewens geherorganiseer sodat hulle hierdie waarhede kon verkondig. Hulle het aan hulle oortuigings vasgehou al is die meeste van hulle geweldadig doodgemaak. Iets het gebeur om dit alles te veroorsaak.

 

Wat het gebeur? Niemand het nog ooit ‘n alternatief voorgestel wat dit alles kon verduidelik nie. As die stad dan geglo het dat Jesus opgestaan het, hoekom het die Romeinse owerhede nie net sy lyk geproduseer nie? Die Romeine het geweet waar Jesus begrawe is – die Romeinse offisier het die graf verseël. Was Jesus nie dalk net in ‘n koma nie? Kan Hy die vooraf lyding en kruisiging oorleef het? Sou Hy in sy toestand met sy dissipels kon gepraat het?

 

Die vroeë Christene het geglo dat Jesus uit die dood opgewek is, want daar was geen ander verklaring vir die gebeure nie. Iets het daardie Sondag gebeur en al die bewyse voor die vroeë Christene het daarop gedui dat Jesus uit die dood opgewek is.

 

Wat is die implikasies van Jesus se opstanding uit die dood