Hoekom het God die Bybel vir ons gegee om te lees?

Saints won’t do the work of the ministry if shepherds don’t equip them – Wayne Cordeiro

 

Hoekom het God die Bybel vir ons gegee om te lees?

Hoekom het God besluit om met ons te praat?

  • Sodat ons van Hom kan leer. God openbaar Homself in die Bybel aan ons – Hy openbaar sy karakter en sy eienskappe aan ons deur vir ons sy soewereine optrede dwarsdeur die geskiedenis te beskryf. Hy wil hê dat ons sekere dinge van Hom moet weet. In die Bybel leer ons van sy mag, geregtigheid, barmhartigheid, toorn, heiligheid, deernis, ens. Hy word volledig in die Bybel beskryf. Daarom is dit nie nodig dat ek my eie prentjie van Hom moet ontwikkel nie. God wil hê dat daar geen wanbegrip oor Hom moet wees nie.
  • Om oor onsself en die wêreld waarin ons leef, te leer. Waar kom ons vandaan? Hoekom is die wêreld in die toestand waarin hy is? Waarheen is ons en die wêreld op pad? Die Bybel antwoord al die belangrikste lewensvrae – nie net sogenaamde godsdienstige waarhede nie. Die Bybel beskryf akkuraat die wêreld waarin ons woon – God het immers self die wêreld gemaak.
  • Om ons in staat te stel om goddelike lewens te lei. Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag (2 Petrus 1:3). As ons God ken, het ons alles wat ons nodig het vir ‘n goddelike lewe. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17). Hier spel Paulus die doel waarom ons die Skrif moet bestudeer duidelik uit. Onthou altyd die waarskuwing van die skrywer van die Hebreërboek: Die woord van God is lewend en kragtig. Die is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (4:12).
  • Om ons verhouding met God te fasiliteer. Elke verhouding het kommunikasie nodig waarin die mens sy gedagtes, emosies, kommer en drome uitdruk. Dieselfde geld vir ons verhouding met God. In die Bybel deel God sy gedagtes en begeertes met ons. Hy het vir ons 66 boeke gegee sodat ons Hom beter kan leer ken. As ons die Bybel lees, luister ons na God se stem en word ons verhouding met Hom versterk.
  • Om Jesus Christus te verheerlik. Alle gebeure in die Bybel wys na God se Seun. Alles is geskryf om Jesus Christus te verheerlik.  Ons lees dus die Bybel om Jesus Christus in ons lewens te verheerlik.
  • Om ons vir ons Godgegewe roeping voor te berei. Reeds in Genesis 2:15 lees ons dat God die mens in die tuin laat bly het om dit te bewerk en op te pas. In Genesis 12 kry Abraham sy roeping van God. Ons is nie hier in die wêreld net om ons eie persoonlike verhouding met God te geniet nie – ons is ook hier as God se dienaars en ambassadeurs: Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen (2 Korintiërs 5:20). Ons is mede-arbeiders van God. Ons kry ons opdragte van God – in die Bybel. Hoekom is ons hier? Hoe word ons deel van dit wat God besig is om op aarde te doen? Die Bybel antwoord al hierdie vrae … as ons net bereid is om te luister.

Volgende keer gaan ons kyk hoe ons ons moet voorberei om die Bybel te lees.