Hoekom is daar nog so baie sonde?

Hoekom is daar nog so baie sonde? – Francois Malan

Pieter vra:

Indien al die mense en hulle sondes op die aarde vernietig was met die sondvloed, behalwe die 8 mense op die Ark, hoekom is daar dan nog so baie sonde op die aarde vandag? Of is dit die sondige natuur van die mense wat saam met die 8 gekom het? En ons as mens maar net eenvoudig te goed in onsself is om te luister?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die manier waarop Genesis 3:5-6 die sondeval beskryf, beklemtoon dat die slang se versoeking aan die mens was dat ‘julle soos God sal wees deur dat julle alles sal ken. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik is omdat dit kennis kan gee.’ En dit is vandag nog elke mens se probleem: ons wil soos God wees en daarom ons eie god wees – selfsugtig, dit gaan om ‘ek’, ons lewe draai om ons self, en is nie op God gerig nie.

Toe die volk in vrees vir God se verskyning in donderslae en weerligte  vir Moses gestuur het om na Hom te gaan luister (Eksodus 20:18-21), en Moses 40 dae op Sinaiberg bly om die voorskrifte van God te ontvang, vra hulle vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak om hulle te lei (32:1). ‘n god wat hulle op hulle skouers kan tel en met hom loop waar hulle wil.

Samuel sê vir Saul wat deur God uitverkies is as koning en toe ongehoorsaam geword het aan God se opdrag: weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery (1 Samuel 15:23).

In Galasiërs 5:16-21 verduidelik Paulus wat alles die gevolg is van ons sondige natuur wat in stryd is met wat die Gees van God vir ons wil leer.

In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus: omdat die mense God nie as God eer en dank nie, maar in plaas van die heerlikheid van die onverganklike God dien hulle beelde van verganklike mense of voëls of diere of slange – die grootste afgod wat ons dien is ek self – daarom gee God in sy toorn oor die sonde van die mense hulle aan hulle eie begeertes oor, om te maak soos hulle wil, en dan volg die lys sondes wat hy uitstippel.

Dit het Jesus kom verander, en die Gees van God wat in die gelowige kom woon het, verbind ons aan Jesus wat Homself in liefde geoffer het vir ons sonde, sodat ons ook ons self aan God kan gee en vir Hom en vir ons naaste in liefde te lewe (Romeine 8:1-17).


Skrywer: Prof Francois Malan