Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg

Hoekom is Jesus nie herken nie? – Opvolg – Jan van der Watt

Erika vra:

Ek het die vraag gevra hoekom Jesus nie herken is na Sy opstanding nie en verskil van die antwoord wat u gee. In u antwoord beweer u dat Johannes 20 daarop dui dat Jesus herkenbaar was, maar dis dan juis Johannes 20 wat vertel van Maria Magdalena wat Jesus vir ʼn tuinwerker aangesien het! Sy smeek Jesus om haar te wys wat van haar Meester se liggaam geword het. In dieselfde gedeelte moes Jesus éérs sy hande en sy aan sy dissipels wys voordat hulle buite hulself van blydskap was om Hom te sien. ʼn Week later toe almal weer bymekaar was, moes Jesus vir Thomas OORTUIG dat dit Hy was deur te sê: Bring jou vinger en kom sit dit in My wonde! Thomas het hom dus nie herken nie. Jesus het skielik tussen hulle gestaan (Lukas 24:36). Hulle het hulle boeglam geskrik, want hulle het gedink dis ‘n spook (Lukas 24:37). Jesus sê toe vir hulle: Hoekom is julle so bang, staan nader (Lukas 24:38). Kyk die merke op My hande en voete, dis Ek Jesus, kom vat aan My (Lukas 24:39). Nadat hulle gevat en gevoel het, het party van blydskap rondgespring terwyl ander Hom met oopmond aangestaar het (Lukas 24:40). Verder beweer u , sonder verwysing, dat Jesus nie meer Sy gewone liggaam gehad het nie, maar dat Hy met ʼn verheerlikte liggaam opgestaan het. Is dit nie hoekom Hy nie herken is nie? Die vraag is dan: Wat is ʼn verheerlikte liggaam? Die Emmaus-gangers het ʼn gewone menslike liggaam gesien, Maria Magdalena het die liggaam van ʼn tuinier gesien, en Sy dissipels het ʼn spook gesien. Het Jesus ná Sy opstanding ʼn totaal nuwe voorkoms gehad? Verwysing: Van der Watt, Joubert & Smit (2008) Geloof in Aksie Bybel.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Met Maria Magdalena se rol by die graf in Johannes 20 moet op die volgende gelet word: Kyk waarmee is sy die hele tyd besig: sy soek die liggaam van die Here wat weggeneem is – sy noem dit ‘n paar keer. Die skrywer wil dus aandui dat Maria se hele verwysingsraamwerk die dooie liggaam van Jesus is. Sy verwag dus nie die lewende Here nie en daarom word dit in 20:14 gesê dat sy nie geweet het dit is hy nie. As Jesus haar op haar naam noem (wat die tuinopsigter natuurlik nie geken het nie), herken sy Hom. Jesus ken die name van sy skape (Hoofstuk 10:1-10) en dan besef sy wie dit is. Die rede vir die onsekerheid is om die buitengewone van Jesus se opstanding te beklemtoon. Die dissipels het dit nie verwag nie en daarom die onsekerheid en onkunde as dit regtig gebeur. Dit is dus nie Jesus wat nie herkenbaar is nie, maar die dissipels en Maria wat Hom nie verwag en dus nie dadelik besef dat dit Hy is nie. Die klem lê glad nie op die feit dat hulle Jesus nie kan herken nie, maar op die feit dat hulle nie verwag dat dit Hy sal wees nie. Daarom geld die merke aan sy hande en sy sy as tekens dat dit regtig Hy is en niemand anders nie.

Wat sy liggaam betref – lees maar 1 Korintiërs 15 waar Paulus beskryf dat ons liggame met die opstanding anders sal wees, maar tog dieselfde. Die feit dat Jesus se liggaam nog lyk soos ‘n gewone liggaam bots nie met die gedagte dat die liggaam in aard ook ander kwaliteite het nie. Dit is dus soos ‘n menslike liggaam maar ook anders, want Hy kan eet, maar Hy kan ook deur deure loop – en dit met dieselfde liggaam.

Outeur: Prof Jan van der Watt