Hoekom is mense so kwaad vir hulle leraars?

“When you take risks you learn that there will be times when you succeed and there will be times

when you fail, and both are equally important.” – Ellen DeGeneres

 

Hoekom is mense so kwaad vir hulle leraars

As Wayne Cordeiro en Francis Chan (Sifted) saam ‘n boek skryf, kan jy dit maar lees. Baie leraars voel dat amper elke dag iemand in die gemeente vir hulle kwaad is. Hoekom het die gemeente nie ‘n beter jeuggroep nie, want dan sou my kind nie die verkeerde pad geloop het nie? Mense gee geld en skryf voor hoe dit gebruik moet word. Wyk net daarvan af en alles ontplof. Ons kan baie sulke voorbeelde noem.

 

Hoe hanteer ons mense se verwagtings? Leer om na God te luister Soms beteken dit dat ons ‘n dik vel moet ontwikkel terwyl ons sensitief bly vir mense se pyn en behoeftes. Jy moet leer om saam met mense wat jou frustreer te leef. Die uitdaging is om gebalanseerd te bly as jy gekritiseer word, om nie kritiek persoonlik op te neem nie en moenie sinies word nie. Wat ‘n paradoks: sensitief, maar nie maklik gekrenk nie; deernisvol, maar nie swak nie; buigsaam, maar met vaste oortuigings.

 

Die tema wat deur al die stories loop, kan met een woord opgesom word – teleurstelling. Dit is die basis vir al die ongegronde verwagtings en kritiek. Iemand soek hulp en kry dit nie; iemand soek die oplossing van die probleem, maar dit gaan nie weg nie; iemand kry seer, maar kry geen verligting nie. Opgesom: ‘n gevoel van teleurstelling.

 

Die probleem is dat nie die leraar of die kerk kan aan alle verwagtings van mense voldoen nie. Kerkleiers dink dikwels dat dit hulle werk is om mense gelukkig te maak. Daarom hardloop hulle die hele dag rond. In ‘n sekere sin bestaan die kerk nie om mense te help nie. Dit is nie die kerk se taak om probleme op te los nie. Die primêre rede waarom die kerk bestaan is om God te aanbid en om mense na Christus te lei. Hy is dié oplossing van ons probleme. Ons werk moet die aandag vestig op Hom wat ons verlos het- – Hy wat vir ons hoop in plaas van teleurstelling gegee het. Ons is nie die antwoord op al die mense se probleme nie. Die groot gevaar is dat ons beloftes maak wat ons nie kan uitvoer nie.

 

Hoe kry ons mense so vêr om realistiese verwagtings van die kerk en die rol en vermoëns van die leiers te ontwikkel.

  • Die kerk sal jou nie altyd gemaklik laat voel nie.
  • Die kerk is nie die antwoord op al jou behoeftes nie.
  • Soms sal jy nie hou van dit wat in die kerk gebeur nie.
  • Jy sal nie met almal in die kerk oor die weg kom nie.

Die oplossing vir al die probleme wat mense ondervind is om hulle na Christus te lei – laat Hy die groot Geneesheer in hulle lewens wees. Mense moet sien wie God is; dat Hy goed is ten spyte van jou huidige probleme; dat Hy hulle opreg liefhet.