Hoekom misluk ons?

 

When you go through a trial, the sovereignty of God is the pillow upon which you lay your head. —C.H. Spurgeon

 

Hoekom misluk ons?

Mislukking hoef nie finaal te wees nie. Almal ondervind mislukkings in hulle lewe. God laat dikwels ons mislukkings vir ons werk. Volgens Spreuke is daar vyf dinge wat mislukking in ons lewens veroorsaak.

  • Ons misluk, want ons beplan nie vooruit nie

‘n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor (27:12). Sommige van ons is geneig om impulsief te wees, maar die verstandige man beplan vooruit. Die impulsiewe mens kyk nie vooruit nie en moet dan die gevolge hanteer.

 

‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (16:9). Jesus vertel die verhaal van die man wat ‘n gebou gebou het, maar voor hy klaar was, moes hy tou opgooi, want hy het nie vooraf beplan nie. Beplan, maar jou beplanning kan nie los van God gedoen word nie.

 

  • Ons misluk, want ons dink ons het alles bymekaar

Die oomblik as ek dink ek het alles in beheer, moet ek versigtig wees. Hoogmoediges wat op ander trap, word vernietig (15:25 – Die Boodskap). Hoogmoed laat ons val. Een van die simptome van trots is dat ons dink dat ons nie die raad van ander nodig het nie.

 

  • Ons misluk as ons te bang is om te waag

Die oomblik as ons ons begin bekommer oor wat ander mense dink, trap ons in ‘n strik. Die grootste mislukking is om nie eers te probeer nie. Vir God se heerlikheid moet ons waag. Dit is wat sukses in die lewe bring. As ons te bang is om te waag, misluk ons.

 

  • Ons misluk, want ons gooi te gou tou op

Mislukking is die pad van minste weerstand. Die probleem is nie dat hulle nie probeer nie, maar dat hulle te gou ophou. As jy aanvanklik nie slaag nie, is jy normaal. Probeer weer. Dikwels is sukses net om die draai. ‘n Luiaard se pad is met dorings besaai (15:19). Jy is nooit ‘n mislukking totdat jy ophou probeer nie.

 

  • Ons misluk as ons nie na God luister nie

Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (14:12). God se woord is vol riglyne en beginsels om ons lewe te rig. Maar meestal luister ons na ons gevoelens: “Ek voel dit is die regte ding om te doen al sê God se woord anders.” God se woord verskil dikwels van ons gevoelens. God sê om te kry, moet ons gee; die pad na grootheid is deur te dien. As ons nie na God luister nie, kom ons in die moeilikheid. Baie van ons mislukkings gebeur omdat ons nie bid nie.

 

Almal van ons sal op een of ander stadium misluk. Wat belangrik is, is wat ons doen as ons misluk. God stel meer in my toekoms belang as in my verlede.