Hoekom moes Jesus sterf?

Hoekom moes Jesus sterf? – Kobus Kok

Jaco vra:

Waarom moes Jesus sterf? Ja dit was Sy straf. Wat sê die OT en wat sê die NT? Eenvoudige waarom moes Jesus sterf?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Jaco, hierdie vraag kan nie sommer net eenvoudig beantwoord word nie omdat daar baie komplekse dimensies in ag geneem moet word. Daar is letterlik duisende boeke geskryf oor die onderwerp en mens het eintlik ‘n boek nodig om die vraag te beantwoord. Ons het eintlik net 800 woorde om mense te beantwoord maar die artikel gaan twee keer langer as dit moet wees. Ek gaan vinnig die kompleksiteit aantoon om net vir jou ‘n gevoel te gee vir die feit dat dit nie sommer net eenvoudig is nie en dan aan die einde sal ek ‘n eenvoudige antwoord gee. Sommige ingeligte en denkende lesers mag dit te simplisties vind. Ek verwys hulle dan na prof Jan van der Watt se internasionale boek “Salvation in the New Testament”. Dit sal hulle vir ‘n jaar besig hou. Daarin word die soteriologie (teologie van die redding) van elke Nuwe Testamentiese boek hanteer. Diegene wat nog verder en gespesialiseerd oor die saak wil lees kan ‘n Nuwe Testamentiese Teologie boek koop soos die van James Dunn, The Theology of Paul the Apostle, 1998, pp 1-808 of George Ladd se Theology of the New Testament, 1993, pp 1-757.

Een so ‘n komplekse saak is dat die teologie van die dood van Jesus in die Nuwe Testament deur die verskillende skrywers van die NT verskillend geïnterpreteer word. Ons sit dus met verskillende teologiese aksente in die Nuwe Testament. Dit is baie soos vandag. Vra nou vir 4 dominees om die vraag te beantwoord en almal van hulle sal vir jou ‘n perspektief gee wat so bietjie verskil. Jy sal dus vier verskillende perspektiewe kry. Hierdie verskillende teologiese perspektiewe sal egter ook sekere lyne en temas hê wat wel ooreenstem. Dit is dan die kernsake waaroor dit gaan. Net so kry ons in die Nuwe Testament verskillende teologiese perspektiewe. Een rede is byvoorbeeld dat die boeke in die Nuwe Testament uit verskillende tye dateer. Die vroegste brief is Tessalonisense wat deur Paulus geskryf is teen ongeveer 50 n.C. Die evangelies is almal na alle waarskynlikheid na 70 n.C. geskryf. Dit beteken dat hulle 40 jaar nadat Jesus geleef het geskryf is. Johannes is tussen 90 en 110 na Christus geskryf wat dit 70 jaar na Jesus se aardse lewe plaas. Jy kan jouself net indink dat daar in 70 jaar verskillende perspektiewe in die kerk ontwikkel en daarom kry mens verskillende perspektiewe op die rede waarom Jesus moes sterf. Tog kry mens duidelike goue lyne wat deurloop van Paulus dwarsdeur tot by Johannes.

Kom ons gaan dan net gou weer terug na Paulus. Hy skryf sy eerste brief so teen 50 n.C. en sy laaste brief voor sy dood in 64/65 n.C. Die vraag wat geleerdes vra, is hoe daar oor die dood van Jesus gepraat is in die tyd tussen Jesus se dood en opstanding en die tyd wat Paulus sy briewe geskryf het. Met ander woorde wat het in die ongeveer 15 jaar na die dood van Jesus en die eerste Bybelse dokument plaasgevind? Hoe het mense oor die dood van Jesus gepraat? In ‘n poging om daarby uit te kom moet geleerdes navors wat die sogenaamde pre- (of voor) Pauliniese materiaal sou behels het. Dit is ‘n hele wetenskaplike proses en baie ingewikkeld. Een so ‘n saak behels die hele kwessie oor die vraag hoe die dissipels kort na Jesus se dood en opstanding na die dood van Jesus sou verwys. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 20 dat die dissipels na Jesus se dood vreeslik bang was en agter geslote deure vir die Jode weggekruip het. Hulle het toe nog nie mooi verstaan waarom Jesus moes sterf nie! Thomas, een van die twaalf het selfs so ver gegaan dat hy gesê het dat indien Jesus nie fisies aan hom verskyn en hy nie sy hande in Jesus se wonde kan plaas nie, hy gewoon net nie sal glo nie. En dan verskyn Jesus kort daarna aan hom, en Thomas maak sy groot belydenis dat Jesus Here en God is (Joh 20:28). Hoe het die dissipels daarna oor Jesus se dood gepraat? Hoe het hulle vir 15 jaar daaroor gepraat voor Paulus vir die eerste keer ‘n brief sou skryf waarin ons vandag ‘n venster op die vroeë kerk kan kry? Indien mens fyn navorsing gaan doen sal mens sien dat die Bybelskrywers oor die dood van Jesus praat en die woordjies dia (deur) en huper (ter wille van) gebruik. Die gebruik van die twee woorde maak ‘n groot verskil. Dink maar net aan die Afrikaanse sinne:

Ek loop in/deur (dia) krag

Ek loop ter wille (huper) van krag

In die Nuwe Testament word die word huper (ter wille van [kyk Rom 5, 6.8; 14, 15; 1 Kor 8, 11; 15, 3; 2 Kor 5, 14-15; 1 Tess 5:10) dikwels gebruik om te verwys na Jesus se plaasvervangende dood. Jesus moes dus sterf ter wille van ons (lees hier Joh 11:50-51). Die motivering vir die sterfte van Jesus en die resultaat daarvan word alles bepaal deur hierdie woord. Indien mens die plaasvervangende offermotief gebruik om oor Jesus se dood te praat, roep dit onmiddellik die gedagtewêreld van die Joodse offersisteem op. In die Joodse denke moes die Jode ‘n dier offer wat ter wille van hulle sondes sterf met die gevolg dat God die persone vryspreek. Indien Jesus dan soos ‘n offerdier moes sterf, is die funksie daarvan om namens ons te sterf. Die meeste mense dink vandag so oor die dood van Jesus.

Daar is egter ook ander maniere om te kyk na hoekom Jesus nou eintlik moes sterf. In Johannes sien mens myns insiens die beste voorbeeld daarvan. In Johannes 3:16 lees ons: 14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoogg word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.[1] Die basiese punt is dat dit nodig was dat God vir Jesus stuur omdat die wêreld fundamenteel gebroke is en vervreemd van God geword het (kyk ook Rom 1-2). God moes ingryp en genesing bring. Hy moes ons oë oopmaak, want mense was geestelik blind (Joh 9:40-41; 12:40-41; Joh 3:3-6) en vasgevang in ‘n geestelike doodsbestaan.

Hiervolgens moes Jesus dus “op ‘n paal (kruis) gesit word omdat God hom gestuur het om dit te kom doen. Ons sit myns insiens hier met ‘n plaasvervangende gedagte. Dit is interessant om teen hierdie agtergrond na Johannes 10:11 te kyk waar Jesus die metafoor van die goeie herder gebruik en sê dat hy soos ‘n goeie herder sy eie lewe ter wille van (huper in Grieks) sy skape. In Johannes 10:17-19 sê Jesus dat hy sy eie lewe neerlê met die doel om dit weer op te tel en dat dit gesien moet word as iets wat deel is van God se plan. Hier kom ons by ‘n belangrike punt in Johannes se teologie. Jesus moet dus sterf sodat hy kan opstaan uit die dood en dat dit deel is van God se plan. In Johannes 12:24 sê Jesus dan baie duidelik dat ‘n saadkorrel eers moet sterf voordat hy kan vermenigvuldig. Dood is dus die voorwaarde en konteks waarbinne die lewe kan ontspruit. Volgens Johannes moes Jesus sterf juis om te kan wys dat hy die bron van lewe is (Joh 1:4). As Jesus dan sterf, sterf hy ter wille van ons, soos ‘n offer, maar anders as in die geval van offers, staan Jesus uit die dood uit op en dit is waar die eintlike fokus lê. Dit is ook by Paulus duidelik dat as hy oor die dood van Jesus praat hy dit nooit losmaak van die belangrike ander kant van die munt, naamlik die opstanding nie (vgl. Rom 4:24-25; 5:6,8,18; 6:4,8-9; 8:11, 34; 10:9; 14:9, 15; 1 Kor 1:23; 2:2; 6:14; 8:11; 2 Kor 4:14; 5:15; 13:4; Gal 1:1; 3:1; 2:21; 6:14). Die Christendom het nie gestol in die dood van Jesus nie. Die storie van die dood van Jesus is van die begin af bedoel om uit te loop op die opstanding van Jesus. Die opstanding illustreer dat Jesus God is en dat hy die mag het oor dood en lewe. Daarom kan Jesus ook lewe gee en word geloof in Jesus die weg na die Vader (Joh 14:6).

In Johannes gebeur daar dan ook iets belangrik na die opstanding. Die dissipels is nog agter geslote deure in Johannes 20:19-23 en vol vrees en ongeloof. Hulle verstaan nog nie hoekom Jesus moes sterf nie. Dan verskyn Jesus aan hulle en blaas oor hulle en sê: Ontvang die Heilige Gees. Daar en dan word die dissipels vervul met die Heilige Gees en uitgestuur om die wêreld met die goeie nuus van Jesus se opstanding te bereik. Indien Jesus nie gesterf het nie, sou hy ook nie opgestaan het nie, en indien hy nie opgestaan het nie, sou niemand weet dat Hy die mag oor lewe en dood het nie en dan was ons nie net vasgevang in ons sonde nie, maar was ons geloof ook leweloos en kaal, leeg soos ‘n verdorde put in ‘n woestyn van pyn.

In kort: hoekom moes Jesus sterf? Hy moes sterf om op te staan uit die dood en aan te toon dat Hy die bron van lewe is en dat God ‘n plan het met ons. Hy moes sterf en opstaan sodat die Heilige Gees uitgestort kon word en mense die leweskeppende krag van God se Gees kon beleef – dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het is immers werksaam in ons (Kol 2:12-15; Rom 6:4; Rom 7:4; Rom 8:11; 1 Kor 6:14; 1 Kor 15).



g Vgl. Joh. 12:32-12:33

[1]Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1983 . Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Capetown, South Africa

 

Skrywer: Dr Kobus Kok