Hoekom moet ek die eredienste bywoon?

 

Jesus isn’t an escape from life’s trials, but he’s our closest friend through them. —Burk Parsons

 

Hoekom moet ek die eredienste bywoon?

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Handelinge 2:42).

Die kerk leef in moeilike tye. ‘n Groot behoefte is dat die kerk weer sy identiteit en karakter herwin. In hierdie vers word die vroeë kerk, net na die uitstorting van die Heilige Gees, beskrywe. Petrus verkondig die boodskap van Christus aan die skare. Baie glo en hulle vergader saam as die kerk. Hoekom het hulle kerk toe gekom? Hoekom moet ons kerk toe kom?

 

  1. Hulle is verander deur die evangelie van Jesus Christus

Petrus het verkondig: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak (2:36). Die hoorders is diep getref deur sy boodskap en vra: Wat moet ons doen, Petrus? Toe antwoord Petrus hulle : “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Hier sien ons die sondaar se behoefte om hom te bekeer, sy sonde te bely, in Christus te glo vir sy verlossing en dan deur die doop deel van Christus se kerk te word. Ook ons moet kerk toe kom, omdat ons deur Christus gered is.

 

  1. Hulle kom om geleer te word in die waarhede van God se woord

Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels. Ware Christene hou van God se woord en wil graag meer daarvan weet. Hulle moet teen onkunde beskerm word en deur kennis bemagtig word. Dit word van Christene verwag om God se woord uit te dra, maar hoe kan hulle dit doen as hulle nie die nodige kennis het nie?

 

  1. Gemeenskap met ander gelowiges

Hulle het hulle heelhartig toegelê op … die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Ware Christene word na mekaar aangetrek.

 

Hierdie verslag van die vroeë kerk eindig deur te sê dat hulle elke dag getrou by die tempel bymekaargekom … Die hele volk was hulle goedgesind.  Ons moet die eredienste met bly en vrygewige harte bywoon om Hom te verheerlik. Wat sal gebeur as ons in die gees van die vroeë kerk bymekaarkom? En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.