Hooglied in die Bybel – Francois Malan

Francois vra

Waarom is Hooglied `n bybelboek? . Daar word nie na God Jesus Christus of die Heilige Gees verwys nie. Ook nie na sonde bekering of vergifnis nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

God se wêreld bevat veel meer as slegs eng godsdienstige sake. Dit omsluit ons hele lewe, wat die pragtige maar ingewikkelde wêreld van die liefde tussen ’n meisie en haar beminde insluit. Die wysheid van die Spreukedigter sê, hoe die liefde tussen ’n man en ’n meisie werk, is bo sy begrip. Hy verstaan dit nie (Spr 30:18-19). In Hooglied word veral die meisie se kant beskryf en die man se reaksie daarop.

Hooglied is nie die werk van ’n teoloog nie, maar van ’n woordkunstenaar, ’n Hebreeuse digter, wat met ’n rykdom woorde, pragtige beelde uit die natuur en literêre kunsvorms die atmosfeer skep vir die ontplooiing van die mooi liefdesverhouding tussen een man en een meisie wat tot ’n monogame huwelik lei.

In die boek vind ons treffende beskrywings van die skoonheid in die natuur, wat getuig van ‘n waardering vir die skoonheid van die skepping (2:11-13; 6:11; om die meisie te beskryf 4:1-5; om haar beminde te beskryf 5:11-13). Die skrywer se waardering vir die natuur word verbind met die innigheid en liefdesverlange van die vrou en die man na mekaar (5:6-8; 7:11-13; 8:1-3; asook 2:3-6 waar sy hom haar koning noem, 2:16; 4:10 waar hy haar besing; 6:3 haar reaksie, ens.). In Hooglied word die gesonde, natuurlike liefde besing waarby die liggaam ’n belangrike rol speel (1:15-16; 2:9-10,14; 4:10; 5:11-16 en veral 7:1-10). Die feit dat Hooglied in die Bybel staan, bewys dat daar in God se bestel plek is vir die mens se vreugde en sy behoeftes; dat die liggaam ook ‘n plek het in die bedoeling van God. Ware liefde is spontaan en moet daarom as ’n geskenk van God, wat ook deur Hom geheilig is, gesien word (8:6-7). Die gawe van die liefdeslewe moet daarom as ’n geskenk uit sy hand aangeneem word. So het God dit ook beskik dat die boek in die Bybel opgeneem is, soos ook Prediker en Spreuke. Ps 45 is ook ’n gedig, so ’n Lied van die liefde.

Die Hebreeuse Bybel is ingedeel in die Wet, Profete en Geskrifte. Hooglied is een van die 5 Feesrolle in die afdeling Geskrifte, wat tydens die 5 groot feeste in Israel gelees word. Hooglied word op Paasfees voorgelees, waarskynlik weens die skildering van God se verlossing van sy volk uit die Egiptiese slawerny en uit die ballingskap in Babel wat tydens Paasfees gevier word, met die beeld van Israel as ‘n versierde vrou en bruid  (Jes 49:18; 61:10) en God se vreugde oor sy volk, soos ’n bruidegom oor sy bruid (Jes 62:5).

In die Hebreeuse Bybel word die boek genoem ‘Die Lied van die liedere’ en is reeds in 100 v.C. in Qumran gebruik. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament wat reeds meer as 200 jaar voor Christus vertaal is, was die eerste Christelike gemeentes se Bybel en het so deel geword van die Christelike Bybel.

Skrywer:  Prof Francois Malan