Invloede by die lees en verstaan van die Bybel

DIE LEES VAN DIE BYBEL IN DIE LIG VAN HEDENDAAGSE UITDAGINGS

Wat beïnvloed die lees en verstaan van die Skrif in ons konteks? In die volgende paar artikels gaan allereers gevra word na van die invloede wat ons gemaak het wat ons is, gevolg deur illustrasies van watter konsekwensies sekere besluite ten opsigte van die Skrif het.

Drie invloede wat ‘n belangrike rol speel in wie ons is, gaan nou genoem word, naamlik die kerkhistoriese, die filosofiese en die sosiale faset.

 

1 Kerkhistoriese perspektief

Wesentlik tot die Christelike godsdiens is dat Skrif en kerk deur die hele geskiedenis onlosmaaklik aan mekaar gebind was en mekaar wedersyds beïnvloed het. Die kerk kon gesagvol optree omdat die Skrif aan die kerk daardie gesag toegesê het en binne die kerk is die Skrif as gesagvol (normatief) erken. Sover ek dit kon nagaan was dit egter eers aan die einde van die twintigste eeu in Europa waar ‘n groot beweging binne die konvensionele Christendom ontstaan het wat beide die gesag van die Skrif (bv. soos dit in die opstanding of versoeningswerk van Jesus uitdrukking vind) en van die kerk (bv. belydenisskrifte) bevraagteken en selfs verwerp het, maar hulle self nog as Christene wou beskryf. Die beweging verteenwoordig nie ‘n hervorming nie en word in Europa ook nie so genoem nie, maar is ‘n ontkoppeling aan die tradisionele norme, tradisie en kultus van die Christendom. Daarom is en word die Christendom juis nou voor beslissende vrae ten opsigte van sy eie identiteit gestel – wie is Christene en wat maak hulle so?  Wat is die presiese verhouding tussen Skrif, kerklike leierskap en Christenskap? Bv. sou ‘n mens nog Christen genoem kon word as jy die gesag van die Skrif ontken of besluit om kerklos te funksioneer?

 

2 Filosofiese impasse

‘n Goeie tipering van die 20-eeuse filosofie is dat dit nie meer vertroue het in sy eie bestaansreg nie, aangesien die individu met sy regte alles in relatiewe subjektiwiteit laat opgaan. Daar is nie meer waarheid nie – elkeen glo wat hy of sy wil. Gemeenskaplike tradisionele opvattings en gebruike – of dit nou filosofies, godsdienstig of polities is – het hulle gemeenskaplike belang, waarheid en invloed in die gemoedere en oortuigings van die Westerse mens verloor. Vanuit ons Westerse perspektief is die hoogtepunt by die draai van die vorige eeu bereik onder die slagwoord van ‘postmodernisme.’  Hoewel die term moeilik omskryfbaar is, kenmerk individualisme, ekstreme egalitarisme en die afwesigheid van absoluuthede die benadering. Sekerhede en outoriteit is vaarwel toegeroep. Niemand (veral nie die kerk nie) mag homself meer die reg aanmatig om te dink dat sy waarheid hoër as die ander een se waarheid is nie. Dit impak op die Christendom is voelbaar. Die Bybel het nie meer absolute gesag nie en dit maak dit aanmatigend om bv. te beweer dat Jesus die enigste Verlosser is. ‘n Relatiwistiese tydsgees wat alle gesag bevraagteken stel die kerk voor moeilike keuses, waarop later teruggekom word.

 

3 Sosiale verskuiwinge

In Suid-Afrika het ons belangrike sosiale, politieke en kulturele veranderinge in die afgelope dekade beleef, veral met die invoering van menseregte. Menseregte verplaas die setel van besluitneming en outoriteit grootliks na die mens. Mense besluit nou wat hulle as relevant beskou op grond van hulle eie voorkeure. ‘n Wesenskenmerk van die Christendom as openbaringsgodsdiens is egter dat dit gesag en outoriteit buite die mens soek, naamlik in God en in die Skrif. Hierdie eksterne gesag in God bots egter met ‘n basiese uitgangspunt van menseregte, naamlik die vryheid van die individu tot die vorming van eie opinies. Die belangrike punt hier is: die mens as besluitnemer bepaal wat relevant is en wat nie. Waarhede binne die Christendom is nie meer wetenswaardig of belangrik omdat dit  goddelike waarhede as sodanig oordra nie (ek verwys hier onder andere na dele van die belydenisskrifte) – die mens stel net eintlik belang in wat vir hom of haar op daardie oomblik relevant is. Die konsekwensie is dat as daar dus skrifwaarhede is wat nie as relevant of aanvaarbaar ervaar word nie, kan die mens as besluitnemer dit eenvoudig ignoreer, onaanvaarbaar of as irrelevant verklaar.        

Aan bogenoemde drie realiteite kan ons nie verander nie, maar kan dit alleen binne ons situasie erken en daarmee rekening hou. Ons moet besef dat die band tussen Skrif en kerk wesentlik aan die Christendom deur die eeue was, dat die gesag egter in postmodernistiese relatiwisme opgelos word en dat die mens deur menseregte die besluitnemer geword het in die plek van ‘n gesagvolle openbaringsaansprake deur God.

In die volgende artikel gaan daar gekyk word hoe bogenoemde die lees van die Bybel beïnvloed/beïnvloed het.  

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt