Is Christene onverdraagsaam en arrogant?

The conscious water saw its master and blushed – Alexander Pope beskryf die verandering van water in wyn

Is Christene onverdraagsaam en arrogant?

Een van die belangrikste waardes vir die postmodernis is ‘n unieke verstaan van die begrip verdraagsaamheid. Hoe verstaan hulle verdraagsaamheid? Enigeen wat daarop aanspraak maak dat hy die unieke waarheid besit, is arrogant en onverdraagsaam. Volgens die pluralis kan geen godsdiens aanspraak maak op absolute uniekheid nie. Om met ander mense oor geloof te praat met die oog daarop om hulle te bekeer, is verkeerd en oneties. Apologetiek moet met dialoog vervang word – maar dialoog met die oog op wedersydse bekering en nie eensydige bekering nie.

 

Die uitdaging vir die kerk is duidelik: verkondig die evangelie op ‘n toepaslike wyse aan ‘n geslag wat vyandig gesind is teenoor die uniekheid van Jesus Christus. Hoe evangeliseer ‘n mens in so ‘n omgewing?

  • Ons gesindheid

Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars (Lukas 7:34). Om hierdie mense te bereik, moes Hy vriende van hulle gemaak het. Nie-Christene is nie ons vyande of mense vir wie ons bang moet wees nie – ons word geroep om hulle tot in God se koninkryk lief te hê. Ons praat oor verskeie onderwerpe met hulle. In hierdie gesprekke sluit ons ook aspekte van ons geloof  in. So doen Paulus dit ook met die Ateners. Ons probeer nie ‘n debat met hulle wen nie. As ons iets goed in hulle sien, bevestig ons dit.

  • Ons lewenstyl

Ons gesindheid teenoor nie-Christene is een van vriendskap; ons lewenstyl teenoor hulle is een van dienaarskap. Dienaarskap is een van die beste argumente teen onverdraagsaamheid en arrogansie. Hierdie is die model wat Jesus vir ons gegee het en ons moet dit altyd volg. Jesus het selfs sy dissipels se voete gewas – en ons moet sy voorbeeld navolg. Vandag is mense nie meer geïnteresseerd of ‘n godsdiens waar is nie, maar of dit werk. Die dienaar lewenstyl van Christene kan deure oopmaak om die evangelie te verkondig.

  • Ons verkondiging

Ons moenie so in diens vasgevang word dat ons nie ons boodskap verkondig nie. Hierdie unieke boodskap is Jesus Christus. Ons moet hierdie boodskap verkondig, want die mense se enigste hoop op verlossing is Jesus Christus. Oorreding word onverdraagsaamheid as ons mense probeer manipuleer.

Christene kan baie maklik die indruk skep dat hulle onverdraagsaam en arrogant is. As mense so voel oor Christene gaan hulle nie oortuig word dat Jesus Christus ons Verlosser is nie.