IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (3)

“What is a Christian? The question can be answered in many ways, but the richest answer I know is that a Christian is one who has God as Father.” – J.I. Packer, Knowing God

Is daar foute in die Bybel (3)

Tot en met die Hervorming het die kerk aanvaar dat daar geen foute in die Bybel was nie. Die oënskynlike foute wat daar wel was, kon maklik verduidelik word. Daar is egter twee tipe foute wat nie so maklik verduidelik kan word nie:

 

  1. 1.Bybelse rekords van historiese gebeure, geslagsregisters, beskrywings van natuurgebeure, ens is problematies. Wat hier nodig is, is versigtige interpretasie van die probleemgedeeltes. Die Skrif beskryf dikwels natuurlike gebeure soos dit vir ons voorkom. Moses se beskrywing van die maan as ‘n groot lig gebruik die taal van waarneming – hoe lyk dit vir menslike waarnemers. Die Skrif beskryf nie hierdie gebeure uit ‘n wetenskaplik-tegniese hoek nie.
  2. 2.Teenstrydighede in Skrif self. Spesifieke problematiese gedeeltes is hanteer, maar dikwels was daar verskillende oplossings voorgestel. Matteus 27:9 – 10 verwys na Jeremia, maar dit is waarskynlik ‘n aanhaling van Sagaria 11:12 – 13. Hier word nie minder as agt moontlike verklarings hiervoor gelys nie – soos byvoorbeeld dat Matteus hier uit Sagaria aanhaal, maar ook uit Jeremia 32:7 – 9. ‘n Ander probleem: Hoeveel blinde mense het Jesus in Jerigo genees. Matteus sê twee; Markus noem net vir Bartimeus; Lukas noem een. So sê sommige Matteus se verhaal is vollediger; ander sê dat die een man beter bekend was as die ander en daarom word nie na die onbekende man verwys nie. Nog ander oplossings word aangebied.

Wat duidelik is, is dat daar erken word dat daar sommige baie moeilike probleme is. Tog was hulle gelukkig dat daar geen foute in die Skrif was nie.

Maar toe kom ons by die moderne tydperk. Aan die begin van die 17de eeu begin hierdie konsensus dat die Skrif geen foute bevat nie ontrafel. Ons staan nou midde in ‘n wetenskaplike revolusie. Die antieke teorie dat die aarde sentraal in die heelal staan, word nou verplaas deur Kopernikus se teorie dat die son sentraal staan. Die impak was groot. Die Bybel plaas die mens by die toppunt van die skepping. As dit so is, moet die aarde met sy mense tog die middelpunt van die heelal wees. Mense geskep na die beeld van God is nou skielik nie meer die toppunt nie.

In hierdie verwarde wêreld kom Bybelse kritiek. Een voorbeeld hiervan is Isaac La Peyrére se pre-Adam teorie:

  1. 1.Adam was nie die eerste mens op aarde nie. Daar was mense wat 50 000 vC al geleef het. Onthou dit was destyds aanvaar dat die wêreld ongeveer 5 000 jaar oud was. Volgens hom was die aarde heelwat ouer.
  2. 2.Moses beskryf nie die ontstaan van die mens in die algemeen nie, maar net die begin van die Joodse volk.

Ander glo dat God net ‘n deel van die Skrif aan die skrywers geopenbaar het (bv die profesieë) en dat ander dele nie geopenbaar is nie (bv geskiedkundige verhale). Hierdie gedeeltes was die resultaat van navorsing. Daar is selfs geglo dat God Hom by die kultuur en heersende wêreldsiening van die skrywers aangepas het. Daar is dus sekere menslike gedeeltes wat foute bevat.

Spinoza verklaar dat die Bybel uit primêre en sekondêre sake van minderwaardige status, bestaan. Hy glo ook die menslike rede staan bo die Skrif en kan dus die Skrif oordeel. Die mens kan dink (Ek dink,daarom is ek – Descartes) en is daarom die beginpunt van alle menslike kennis. In soeke na ware kennis geniet rede prioriteit. Die rede word toegepas op die Skrif en sou dan dié kriterium vir die waarheid van die Bybel wees. Die Bybel moet soos enige ander boek geïnterpreteer word. Baie voel dat alle aansprake wat van bonatuurlike oorsprong is, verwerp moet word. Algaande word die Bybel slegs as ‘n kode vir etiese gedrag gesien.

Die outeurskap van die Pentateug word ‘n ongemaklike twispunt. Volgens die dokumentêre hipotese was Moses nie die outeur van die Pentateug nie – die Pentateug is ‘n seleksie van verskeie geskrewe dokumente geskryf deur verskillende outeurs – geskryf oor tydperk van 5 eeue. Geen moontlikheid dat Moses die outeur was nie. Terselfdertyd publiseer Darwin sy  Origen of Species (1859) – die basis vir die evolusieteorie. Dit ondermyn die mens se siening van die waarheid van die Bybel – veral die skeppingsverhaal.

Daar word dus nou ‘n onderskeid gemaak tussen ‘n Bybel sonder foute en die onfeilbaarheid van die Bybel. Daar word nie meer aanvaar dat die Bybel geen foute – geskiedkundig, geografies, numeries, ens – bevat nie. Meeste mense aanvaar wel dat die Bybel onfeilbaar is – die Bybel maak geen vals  of misleidende stellings oor enige saak van geloof en praktyk nie – niks wat enige impak op verlossing en ‘n heilige lewe het nie. Daar kan wel foute wees wanneer die Bybel sake soos geskiedenis, geografie, kosmologie, ens bespreek. Die debat is egter ver van oor.