Is gevoelens goed of sleg?

Martin Luther King Jr.

Is gevoelens goed of sleg?

Godsdiens is ‘n ernstige saak – moenie te veel emosie wys nie. Soos die Engelse sê: stiff upper lip, my boy. Maar nou sien ons dat Jesus emosies ondervind het. Hy huil by Lasarus se graf. Lees net weer die emosie in daardie laaste ure in die tuin van Getsemane.

Wat ons nie by Jesus kry nie, is selfbejammering nie – Hy kla nie oor sy lot nie. Hy hanteer sy emosies konstruktief en gee daarmee vir ons ‘n model om na te volg.

  • Jesus erken sy gevoelens

Jesus neem vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom dieper in die tuin in. Dan lees ons: Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” (Matteus 26:38) Die basiese les wat ons moet leer, is dat as jy jou gevoelens onderdruk hulle nie sal verdwyn nie. Wees eerlik met jouself. Om jou gevoelens te erken is die eerste stap in die hantering daarvan. Sê vir God hoe jy voel.

  • Jesus vra ondersteuning van sy vriende.
  • Jesus gaan nie alleen nie – Hy neem sy drie vriende saam. Hy is eerlik met hulle en vra hulle om te wag. En ons? Ons is dikwels te trots om ons vriende te vra om ons te help.

  • Jesus weet dat sy emosionele lyding Hom nie van God se liefde en aanvaarding sal skei nie
  • God se aanvaarding van ons word nie deur ons gevoelens bepaal nie, maar deur ons geloof. Ten spyte van al die emosionele lyding bid Hy tot God en gee Hy die volgende raad aan sy dissipels: Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.”

  • Jesus weet dat seën volg op gehoorsaamheid
  • Nadat Hy sy drie dissipels vir die derde keer wakker gemaak het, sê Hy vir hulle” Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad. Dit is die pad wat God bepaal het Jesus moet loop en in gehoorsaamheid loop Hy dit. Die Hebreër-skrywer sê dat die lewe soos ‘n wedloop is en dat daar dinge is wat verhinder dat ons hierdie wedloop voluit kan hardloop: Dit is veral die sonde wat ons gedurig wil pootjie. Laat ons soos die ander gelowiges hardloop met alles wat ons het. Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou en Hy sal ons tot aan die einde daarmee help, sodat ons geloof sal bly wat dit behoort te wees. Dink aan sy voorbeeld. Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel (12:1 – 2).

    Jesus het vir ons in Getsemane gewys dat gevoelens nie verkeerd is nie. Hy wys ook vir ons hoe om ons gevoelens te hanteer. Leer by Hom.

    [Alle teksaanhalings kom uit Die Boodskap.]