Is God se woord duidelik en verstaanbaar?

A musician must make music, an artist must paint, a poet must write, if he is to be ultimately at peace with himself. What one can be, one must be. -Abraham Maslow, sielkundige (1908-1970)

Is God se woord duidelik en verstaanbaar?

Daar is mense wat sê dat God se woord nie verstaan kan word nie. Dan gebruik hulle die beeld van die blinde mans en die olifant. Die eerste man voel die sy van die olifant en sê dit is ‘n muur; die tweede man voel die olifant se oor en sê dit is ‘n waaier; die derde man voel die olifant se stert en sê dit is ‘n tou. So kan jy aanhou. In die oorspronklike storie was daar ses blinde mans.

 

Net so is dit met die mens en die Bybel – ons weet nie werklik wat ons voel nie. Hierdie mense beweer dat as ons by die Bybel kom die mens in werklikheid blind is. Die mens ken net ‘n deel van God, want die mens kan Hom nooit volledig ken nie. Niemand van ons is meer reg as ander nie; almal van ons tas in die donker en dink ons weet meer as wat ons in werklikheid weet.

Is hierdie beeld korrek?  Hier is twee probleme met hierdie storie.

  • Hierdie storie word vertel deur iemand wat presies weet dat ‘n olifant ‘n olifant is. Vir die storie om trefkrag te hê, moet die verteller ‘n akkurate kennis van God hê anders gaan die storie platval.
  • Hierdie storie is ‘n goeie beskrywing van die mens se onvermoë om God te ken en te verstaan. Ons kan God nie op ons eie ken nie. Wat sou gebeur as die olifant kan praat en vir die mense presies vertel wat hulle voel? Is dit nie wat God gedoen het nie? In sy woord vertel Hy vir ons wie Hy is en wat sy eienskappe is.

Ons kan God nie op ons eie ken nie, maar omdat Hy Hom in sy woord geopenbaar het, kan ons Hom ken.