Is God soewerein?

If you do not listen to theology, that will not mean you have no ideas about God, rather it will mean you have a lot of wrong ones. —C.S. Lewis

 

Is God soewerein?

[Soewerein = Gebieder met die hoogste gesag beklee; oppermagtig – HAT]

As ons sê dat God soewerein is, is daar drie reëls wat geld:

 

  • God is oneindig in sy wese en in sy manier van doen. Ons beperkte verstand kan nie sy onbeperkte verstand begryp nie. Daarom is sekere van God se besluite ‘n geheimenis vir ons. Die verhouding tussen die soewereine wil van God en die vryheid en morele verantwoordelikheid van die mens is een so ‘n ding. God beweeg die mens se wil, maar op so ‘n manier dat die mens vrywillig optree.
  • God is nooit die outeur van sonde nie. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sé: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word en self verlei Hy ook niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en aanmoedig (Jakobus 1:13 – 14). Die feit dat mense se sondige optrede soms die doel van God ondersteun beteken nie dat God die outeur daarvan is nie.
  • Mense maak keuses uit hulle eie wil. Nêrens lees ons dat mense poppe sonder enige verstand is wat deur goddelike toutjies beheer word nie.

 

As ons dan weet dat God die hart en verstand van mense kan beïnvloed, hoe moet ons dan optree? Ons moet Hom vertrou. Ons bestemming is in sy hand – nie dié van ander mense nie. Daarom moet ons God in gebed nader as ons toekoms ter sprake is. Dit beteken ons moenie bitter word as ons onregverdig behandel word nie. God laat nooit toe dat mense besluite neem wat sy planne vir ons sal ondermyn nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31).

 

Oppas:

  • Ons mag nooit die hierdie leer gebruik as verskoning vir ons eie tekortkominge nie.
  • Ons mag nie dat die leer van God se soewereiniteit veroorsaak dat ons passief reageer op die optrede van ander nie.
  • Ons mag nooit hierdie leer gebruik as ‘n verskoning vir my eie sondige optrede en besluite nie. Ons bly steeds aanspreeklik vir ons besluite en optrede.