Is goeie werke belangrik?

The ultimate measure of a man is not where he stands in moments of comfort and convenience, but where he stands at times of challenge and controversy.”  –  Martin Luther King Jr.

Is goeie werke belangrik?

Scot McKnight (The Sermon on the Mount – 2013) sê dat ons finale bestemming deur ons werke bepaal word. Ons word deur geloof gered, maar op ons werke geoordeel. Baie mense glo dat as hulle gebid en Jesus in hulle harte ingenooi het, is hulle gered … veilig. Hulle vertroue is op ‘n eenmalige besluit, maar daarna toon hulle geen tekens van dissipelskap nie. Die basis van ons Christelike geloof is: Ek word deur Jesus Christus gered om sy dissipel te wees.

 

Mense vra dikwels twee vrae oor werke:

  • Watter soort goeie werke moet ek doen? Onmiddellik dink ek aan “groot” dinge soos wonders doen, preek of selfs demone uitdryf. Dit is nie wat Jesus sê nie. Hy vra: Het jy vandag barmhartigheid aan ‘n behoeftige bewys? Het jy vandag na iemand op die rant van die samelewing uitgereik of het ek opgetree soos die ryk man teenoor Lasarus wat by sy deur gelê het? By hierdie vrae kan ek nog baie byvoeg. Die basiese vrug van die Nuwe Testament is liefde – liefde vir God en liefde vir my naaste. Die basiese vraag is: Wat het ek vandag vir ander mense gedoen?
  • Hoeveel van hierdie goeie werke moet ek doen? Sodra ons kwantitatief hierna kyk, slaan ons die bal mis. Dit gaan nie oor hoeveel nie, maar oor wat.

Werke kan natuurlik nagemaak word. Daarom is werke nie voldoende nie – stem my gedrag ooreen met dit wat van Jesus se volgelinge verwag word? Ek moet ook onthou dat die doen van eenvoudige dinge meer werd is as buitengewone gawes. Wat vir Jesus Christus belangrik is, is liefde, deernis en barmhartigheid.

Ek moet die evangelie hoor en aanvaar, maar dan moet ek doen. Hoor sonder doen is nutteloos.