Is goeie werke verpligtend vir redding?

Is goeie werke verpligtend vir redding? Kobus Kok

‘n Leser vra:

Kinders van God by die laaste oordeel. a) Sal gereddes by die laaste oordeel verantwoording moet doen vir hulle verkeerde dade en woorde alhoewel hulle nie veroordeel sal word nie? (Openbaring 20:12 +15) b)Na aanleiding van 1 Petrus 4:17 + 18: Word gereddes hier op aarde getugtig en gestraf vir verkeerde dade ens sodat hulle nie by die oordeelsdag saam met die wêreld veroordeel word nie?

Antwoord:

Prof Kobus Kok antwoord: 

Is goeie werke verpligtend vir redding?

Myns insiens is die Afrikaanse woordverstaan van “goeie werke” effens misleidend. Ons dink dikwels daaraan dat dit beteken dat mens geld moet gee vir armes of kerk toe moet gaan of tiendes moet gee. As Paulus van goeie werke of van die nakom van die wet praat, gaan dit vir hom oor die doen van God se wil, wat veral in Jesus se lewe sigbaar geword het en deur die Gees geopenbaar word.

In die antieke tyd het die mense geglo ‘jy is wat jy doen’. Goeie bome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. Die wet word deur Christene gehou, nie ter wille van wetsonderhouding nie, maar as voortvloeiend uit ons verhouding met die Here. By Paulus is wetsonderhouding nie opsioneel vir Christene nie, inteendeel dit word gekoppel aan redding. Christene wat nie volgens God se wil leef nie, met ander woorde wat die fundamentele etiek van Christen-wees verwerp en nie daarvolgens lewe nie, sal volgens Paulus nie die Koninkryk van God sien nie. Dit is baie duidelik in Galasiërs 6:5 (Gal 6:5 – Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het). Professor Ben Witherington (1996:213), bekende Nuwe Testamentikus in die VSA stel dit so: “Good behaviour cannot get a person in, but bad behaviour can apparently get a person out of the community of Christ”.

Goeie werke, die nakoming van die wet, of God se wil is dus verpligtend vir ‘n Christen omdat ‘n goeie boom goeie vrugte dra. Indien jy ’n Christen is, sal jy ook outomaties God se wil in jou lewe wil uitleef. Indien dit nie so is nie, dan is jou geloof dood. Dit sê Jesus se broer Jakobus baie duidelik in sy brief in Jakobus 2:14vv:

14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 

18Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” den hy is ’n vriend van God genoem. 24Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.  

Ons moet dit wat Jakobus hier sê egter nie moeiliker maak as wat dit is nie. Dit is eintlik heel logies. Iemand wat ’n Christen is, het ’n radikale identiteitstransformasie ondergaan toe God se Gees sy/haar lewe kom verander het en jou ‘n splinternuwe mens gemaak het (Gal 6:15). Die Christelike lewe is egter ’n leerproses en mens ontwikkel met tyd al meer in die persoon wat God beplan het jy moet wees. Tog is jy in jou menswees in alles gefokus op God en daarom kan jy getuig daarvan dat jou gedagtes en jou keuses, jou ganse lewensstyl – jou werke en denke en drome daarvan getuig dat God die sentrum is van jou lewe. So iemand se geloof gaan oor in dade. Teen die einde wanneer Christus weer kom sal dit mos duidelik blyk wie regtig aan Hom behoort het en wie hulle lewe totaal oorgegee het aan Hom, en wie nie. Gelowiges hoef nie skaam te wees vir hulle lewe nie. Ja, hulle gaan baie foute gemaak het in die lewenspad as Christene, soms baie groot foute. Maar God is getrou en regverdig en hy red diegene wat telkens met ware berou voor Hom buig en hulle gesplinterde lewensvensters weer aanmekaar sit met die gom van God se mosaïek in sig (vgl. 1 Joh 1:6-10).

Johannes, die dissipel van Jesus wat die Johannesevangelie en Openbaring geskryf het stel dit die mooiste in 1 Johannes 1:6 – 2:6

Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 9 Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. 

2 Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. 2 Hy is die versoening vir ons sondes; en nie net vir óns sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.3 As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. 4 Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. 5 Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. 6 Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. 

Bronne geraadpleeg: 

Witherington, B., 1995, Conflict and community in Corinth: A socio-rhetorical commentary on 1 and 2 Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids.

Skrywer: Prof Kobus Kok