Is Katolieke Christene?

Is Katolieke Christene? – Jan van der Watt

Jurgens vra:

Is Katolieke Christene? Gaan hulle hemel toe? Hulle bid aan Maria as “tussenganger”. Is dit nie afgodery nie? Moet my asb nie hierdie politiese korrekte antwoord gee nie – maar ek weet reeds dis wat julle gaan doen…. As dit olraait is dat hulle bid tot Maria, hoekom kan ek nie tot my pa bid wat dood is toe ek 10 was nie? Komaan ouens – gee my ‘n reguit eerlike antwoord.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Aan die laaste sin van Jurgens se brief lyk dit of hy klaar weet wat die regte antwoord is. Die ‘ouens’ (dis nou ons) moet net eerlik wees en antwoord wat hy wil hoor – en as die antwoord is wat hy wil hoor, is dit die eerlikste antwoord wat ons kan gee; die omgekeerde is natuurlik ook waar. Ons probeer so eerlik wees as wat ons maar kan. Bybelkennis.co.za het geen spesifieke agenda behalwe om soveel moontlik inligting beskikbaar te stel nie.

Natuurlik is die Katolieke Christene, om die waarheid te sê, ver meer as die helfte van die mense wat op aarde sê hulle is Christene behoort aan die Rooms-Katolieke kerk. Indien mense in Jesus glo, is jy ‘n Christen, dit leer die Bybel ons. Om via Maria tot die Vader of Seun te bid, diskwalifiseer jou nie as Christen nie. Deur met Maria in gebed te praat, maak haar nie God of die Seun nie.

Dit sou miskien goed wees om net te kyk waarom die Rooms-Katolieke dit doen. In die tyd van die Nuwe Testament en kort daarna was dit die gebruik binne die Mediterreense families dat die kinders vir hulle ma’s vra as hulle iets by hulle pa’s wou hê. Hulle het nie sommer die pa’s reguit gevra nie, meestal uit respek. Die gebruik het daartoe gelei dat die mense uit respek vir God vir die moeder van Jesus begin vra het om hulle versoeke oor te dra. Dit was dus nie om Maria te aanbid nie,  maar om God die Vader te respekteer. Die gebruik kan egter nie op ‘n teks in die Bybel gebaseer word nie, maar het binne die vroeë Christendom ontwikkel. Maria word gevra omdat sy as ma baie naby aan Jesus staan, iets wat Jurgens se pa nie op dieselfde manier is nie. Tog, binne die Roomse kerk word daar tot heiliges ook gebid, omdat daar aanvaar word dat hulle ook in die hemel is. Hulle kan bemiddelend die versoeke aan die Vader of Seun oordra. Dit het egter later wel so ontwikkel dat heiliges gevra word om gelowiges te help. Uit Protestantse hoek word gevoel dat dit nie aanvaarbaar is nie.

Die vraag van Jurgens vestig die aandag tog op ‘n belangrike saak: baie van die gebruike wat ons in die kerk het, kom nie direk uit die Bybel nie, maar het deur die loop van die geskiedenis ontwikkel en so deel van die kerk se tradisie geword. Ons moet dus nie te vinnig wees om sekere dinge wat ons in die kerk doen te verabsoluteer as goddelik nie. Van die dinge kom wel uit die Bybel uit, maar beslis nie alles nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt