Is my siekte ‘n gevolg van my sonde?

Is my siekte ‘n gevolg van my sonde? – Kobus Kok

Vraag:

Ek wil graag weet wat julle verstaan onder geloofsgenesing. Ek kry op die oomblik te doen met heelwat sienings dat as jy siek is jy of oorkom is met sonde, of deur ‘n gees besete is of God uit jou lewe verwerp het.

Hiermee saam is daar die kwessie dat as jy glo, God jou sal genees, want dit is sy wil – Hy wil nie sien jy ly nie. Dit is alles goed en wel, maar wat ek nou wonder – as dit sonde is, hoekom is my belydenis voor God nie genoeg nie? Staan ‘n mens nie die gevaar om eerder die duiwel in alles te begin soek en so onverdiende mag aan hom toe te skryf as aan God nie? Hoe kan ek regtig sê dat dit God se wil is vir my is om genees te raak? Begin ek nie dan voorskriftelik op te tree nie? God het my tekortkominge al op verskeie maniere gebruik, maar ek sal ook graag ontslae wil wees daarvan. By geloofsgenesing – wanneer fokus ‘n mens meer op God en wanneer fokus jy meer op die duiwel? Wanneer tree ‘n mens voorskriftelik op en wanneer glo en aanvaar jy God se genade? My gebede is al so baie verhoor deur die mediese veld en God wat my leer om eenvoudiger te leef, maar soos ek sê, ek kry nou te doen met mense wat sê dit is verskonings en nie regtig God se wil nie. Hoe benader ‘n mens dit? Is daar mense in die Bybel wat nie deur God genees is nie?

 

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Inleiding

Wanneer dit by siekte en gebrokenheid kom, is daar geen maklike antwoorde nie. Die realiteit daarvan bly ‘n worsteling en mens moet nie soos Job se vriende te vinnig probeer antwoorde gee nie. Ons kan hoogstens probeer om die Bybel aan die woord te laat kom. Dit is dan wat ek in alle nederigheid en afhanklikheid aan die Vader hier probeer doen.

Inhoud

Baie mense worstel met die vraag of hulle siekte ‘n gevolg is van hulle sonde. Baie mense sal dan tekste uit die Ou Testament haal waar dit wil voorkom of siekte die een of ander straf is op sonde wat mens gepleeg het.

Die mense van die Bybelse tyd, met spesifieke verwysing na die Ou Testament, het inderdaad gedink dat siekte gekoppel was aan sonde. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat God die God van lewe is en dat God heilig is. Siekte is beskou as ‘n teken dat daar nie lewe is nie, soos iemand wat blind is, het nou eintlik nie lewe in sy oog nie. Implisiet beteken dit dat as God onttrek het van jou, of jou straf, dan raak jy siek, want Hy onttrek die lewe van jou af. Daarom is siekte in die Ou Testamentiese denke dikwels aan sonde verbind.

In Johannes 9 lees ons die verhaal van die man wat blind gebore is. Die antieke Rabbi’s het geargumenteer dat omdat siekte ‘n gevolg is van sonde, dit dus beteken dat iemand wat blind gebore is se ouers gesondig het, of selfs dat die ongebore kind in sy/haar moeder se baarmoeder gesondig het. Interessant genoeg lees ons dat Jesus se dissipels, toe Jesus die blinde man raakloop, onmiddellik vir hom vra (9:1-2): “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Hierdie vraag is dus presies die regte vraag wat ‘n goeie Jood sou vra. Die verband tussen siekte en sonde was noodwendig.

Maar dan spreek Jesus verrassende woorde wat die status quo van die dag deurbreek en net daar gaan die hemel bo die blinde man en die geestelik blinde dissipels oop as Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Hier deurbreek Jesus die logiese verband tussen siekte en sonde. Kort daarna smeer Jesus klei aan sy oog, wat volgens die Kerkvader Irenaeus herinner aan die skepping van Adam, en net daar word die man se oë herskep tot lewe.

Hierna sou niks weer dieselfde wees nie. Daarna kon niemand weer sommer net aanneem dat siekte die gevolg is van sonde nie. Dikwels is dit juis ons siekte, ons gebrokenheid en broosheid (wat bloot ‘n gevolg is van ‘n gebroke werklikheid op aarde) wat ons by die voete van die Vader uitgebring het, en die ruimte waarbinne ons die aanraking en nabyheid van God kan beleef. Dit is gewis so dat God nie altyd almal se siekte en gebrokenheid genees nie, en dit is ook nie gekoppel aan my of jou ongeloof nie. Siekte en gebrokenheid is deel van hierdie gebroke en verganklike werklikheid op aarde. Maar dank God vir die ewige lewe. In die hemel, sê die Bybel, gaan daar geen siekte of gebrokenheid wees nie. Jesus se primêre werk op aarde het juis gegaan oor die feit dat hy vir ons ‘n lewe van volmaaktheid hierna geskep het. Daarna sien ons uit en daarop het ons ‘n vaste hoop. Hier op aarde vind genesing tog plaas. In en deur die mediese wetenskappe vind wonderbaarlike genesing elke dag plaas as harte oorgeplant word of antibiotika lewens red. Medici is God se geskenk aan ons. Soms vind onverklaarbare genesings plaas wat selfs dokters verstom laat. Soms word mense nie genees nie.

By John Pilch het ek ‘n handige onderskeiding tussen verskillende terme geleer wat my nuwe begrippe gegee het om genesing te verstaan. Hy sê God genees altyd, en genesing (healing) is ‘n werklikheid. Hy sê: “One might not always be cured from ones’ disease, but one may more than often be healed from one’s illness.” [sic]. God vat dalk nie my fisiese siekte (disease) weg nie, maar emosioneel en geestelik genees en restoureer hy my deur vir my sin en betekenis, hoop en geestelike lewe te gee (healing).

Siekte, seer en gebrokenheid maak nie altyd sin nie en dit is op geen manier iets wat maklik is om te verstaan nie. Een ding weet ons egter, en dit is dat God die bron van fisiese, emosionele en geestelike lewe is en ek glo met my hele hart dat dit by God alleen is waar ons ware sin en betekenis (healing) kan vind. 

Outeur: Dr Kobus Kok