Israel as die lig van die Here vir die nasies (60:1-22) – Francois Malan

Drie motiewe dra die gedeelte: die hoofmotief is lig (verse 1-3,5a, 19-20; die verwysing na die verfraaiing van die tempel en die stad oorheers die kern gedeelte (verse 7b-9,13,21); die oproep tot vreugde word duidelik uitgespel in verse 5a, 15b, 22. Jerusalem word aangespreek oor haar nuwe status en voorreg.

Esra 7 vertel dat Esra na Jerusalem vertrek het in 458 v.C.; 80 jaar na die eerste groep onder Serubbabel wat met koning Kores van Persië se opdrag daar aangekom  het. Esra kom  met die toestemming en opdrag van koning Artasasta (Artaxerxes) van Persië. Nehemia kom 13 jaar later die mure van die stad opbou  (445-433 v.C.) met die goedkeuring van koning Artasasta en kom weer in 430-428 v.C om die tempeldiens te herstel. Die hoofstuk speel miskien af gedurende die tyd van Esra en Nehemia.

60:1 ‘Staan op! Skyn! want jou lig het gekom; en die heerlikheid van die Here skyn oor jou.’ Die werkwoord en die voornaamwoord is vroulik, wat die stad Jerusalem aandui wat moet opstaan uit hulle wanhoop en lusteloosheid om weer met hoop en dryfkrag te lewe en te werk. Die rede vir die dubbele opdrag is die versekering dat hulle lig, naamlik die heerlikheid van die Here, duidelik sigbaar vir die wêreld (die volke van v2 en nasies van v 3) in en deur hulle skyn. Die Here is hulle lig. Dit word uitgebrei in vers 2.

60:2 Die volke van die aarde lewe in duisternis van onkunde oor God en sy doel met die mens, en in negatiwiteit sonder hoop; maar die Here verlig sy volgelinge en die lig wat die Here aan hulle gee sal raakgesien word deur die volke. Soos deur die hele boek Jesaja staan die Here op om Israel op te hef en te verlig, maar die ander volke is altyd ook op die horison.

60:3 ‘Nasies sal na jou lig toe kom en konings na die helder glans wat van jou uitstraal’ – in die verlede was Jerusalem onderhorig aan ander nasies. Maar nou, as gevolg van die Here se nuwe besluit, word daar ‘n groot omkeer gesien. Terwyl die volke in die duister van negatiwiteit sonder hoop lewe (v2) is Jerusalem die voorwerp van die Here se positiewe aandag. Daarom sal nasies en konings getrek word deur Jerusalem se lig – iets wat lank laas gesien is. Dit is reeds in Jes. 2:2-5 vir Israel voorgehou as die wil van die Here. In Joh 12:32-33 verwys Jesus na sy kruisdood in Jerusalem as die toppunt van God se selfopofferende liefde vir die wêreld: En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.

60:4 Die teks begin ook met ‘n dubbele opdrag: slaan julle oë op en kyk rondom julle – na die skare wat aanstroom na die stad wat aan die herstel is. Hulle (die nasies) kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe (soos die Samaritane van Sigar in Joh 4:39-42). Hulle bring ‘n swaar vrag:’ jou seuns bring hulle van ver af’ – die Jode wat nog verstrooid in die Persiese ryk bly, word teruggebring, ‘en julle dogters word op die heup versorg’ – die nasies bring hulle met groot sorg terug na Jerusalem. En saam met hulle ook groot vragte goed:

60:5 Tot nou toe moes Israel skatplig betaal, eers aan Assirië en toe aan Babilon. Die proses is nou egter omgedraai:  Maar as jy (vroulik: Jerusalem) jou oë opslaan en rondom jou kyk sal jy sien en straal (van blydskap) en jou hart sal tintel van vreugde, want die oorvloed van die see word na jou gebring en die rykdom van die nasies kom na jou toe – handelsrykdomme wat per boot en oor land aangebring word. (vgl. Artasasta se opdrag in Esra 7:15-20, Neh 2:8).

60:6  ‘n Menigte kamele bedek/beklee jou – hulle bring materiaal vir klere aan. Jong kameelbulle uit Midian en Efa (in Noord-Arabië), almal uit Skeba (in Suid-Arabië) bring goud en wierook. Die gawes verkondig die lof van die Here. Die koningin van Skeba het gehoor wat vertel word van Salomo en die Naam van die Here, en het self gekom met ‘n menigte geskenke om ondersoek in te stel. Haar bevinding was: Geloof sy u God, die Here, wat aan u soveel liefde bewys het…Omdat die Here Israel vir altyd liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel om die orde en die reg te handhaaf (1 Kon 10:1-2,9-10). Sy is ‘n voorloper van hierdie belofte van die Here aan sy volk. Die heidense sterrekenners uit die Ooste het ook goud en wierook gebring na die Kind van Betlehem om  aan Hom eer te bewys en te aanbid  (Mt 2:2,11).

60:7 Die kleinvee van Kedar en die ramme van die Nebajot omgewing (nomadiese gebiede in Arabië; vgl. die name van Ismael se seuns in Gen 25:13) – hierdie gawes van die heidense nasies – is vir die Here aanneemlik as offers op sy altaar!  Jerusalem word die sentrum vir geestelike en stoflike seëninge vir Israel en die volke. Arabië was destyds die hele gebied wat reg Oos en Suid van Israel geleë was.

60:8-9 Die visioen oor die herstel van Israel begin in hierdie verse met die tuiskoms vanuit die Middellandse See, die wêreld van seevaart en skepe. Die skepe wat die Middellandse See deurkruis met hulle ware, verteenwoordig die enorme rykdom wat deur handel geskep word (vgl 2:16 se handelskepe en al die vaartuie vol kosbaarhede). Maar voordat die skepe heeltemal sigbaar is, is die toppe van hulle seile soos ‘n wolkie en duiwe wat op die horison verskyn. As hulle heeltemal in sig kom, word hulle herken as vragskepe. Hulle vrag is ‘julle kinders’ plus ‘silwer en goud,’ mense en rykdom op pad na Jerusalem. Agter die beweging staan ‘die Here (Die Ek is), jou God, ‘Die Heilige van Israel’ – wat aan Israel toegewy is (Lg. is Jesaja se geliefkoosde titel vir die Here, vgl. bv. 1:4; 5:19 en nog 28 maal in Jesaja).  Hy is die borg wat hierdie wonderbaarlike herstel van Israel kan bewerk, die openbare proses van vernuwing van hulle samelewing.

60:10 Die afdeling sluit in vers 14 ook met die Here, die Heilige van Israel. Vreemdelinge en konings word gewillige instrumente vir die nuwe welvaart van Israel. Maar agter dit alles sit die Here wat vroeër in toorn teen Israel se sondige lewenswyse, waardeur hulle mekaar vertrap het, moes optree, en nou in sy genade hulle lewe ná die ballingskap voorspoedig maak, soos in 54:7-8 uitgespel is.

60:11 As gevolg van die Here se nuwe lewe vir Israel moet die poorte van die stad dag en nag oopstaan vir die stroom Jode wat terugkom en al die rykdomme wat daarmee saam  aankom (vgl. Esra 7:13,15-16).

60:12 Die nasies word gewaarsku dat hulle onderwerping aan Jerusalem ‘n aanbod is wat nie geweier kan word nie. Die alternatief is vernietiging. Die enigste manier waarop ‘n nasie kan vooruitgaan, selfs om te kan bestaan, is om nou verbind te wees met die vernuwing van Jerusalem – want die Here se nuwe lewe vir die stad beteken ‘n samelewing van reg en geregtigheid en barmhartigheid, die voorvereistes vir ‘n samelewing om goed en in vrede te kan bestaan.

60:13 Die bosse op Libanonberg het destyd hout voorsien vir Salomo se tempel (1 Kon 5:8-9). Nehemia het ook toestemming gekry om hout uit die staatsbos te kry vir die bou van die stadspoorte (Neh 2:8). Hier voorsien die Libanon ook hout vir die bou en versiering van die tempel

60:14 Die profeet sien dat die nasies wat vir Israel vroeër verdruk en onderdruk het, hulle nou in nederigheid aan Jerusalem onderwerp. Hulle sal die stad noem: die stad van die Here – Die Ek is die teenwoordige, Sion van die Heilige van Israel – aan Israel toegewy (vgl. Luk 14:11 en 18:14: Elkeen wat homself verhoog sal verneder word, en wie homself verneder sal verhoog word – dit is die weg van die Here vir elke mens en samelewing, vgl. die betekenis van die menswording-lewe-sterwe-opstanding-hemelvaart van Jesus vir gelowiges in Filip 2:5-11).

Skrywer:  Prof Francois Malan