Jesaja – Agas se keuse (7:7-13)- Francois Malan

7:7-9 Die profeet sê: ‘So het die Here HERE gesê: Dit sal nie gebeur nie en dit sal nie wees nie.’

Die wêreld lyk baie anders as jy nie deur vrees verteer word nie (7:2). Maar daar is ‘n voorwaarde wat in die vorm van woordspel gegee word: as julle nie glo nie – nie op die Here vertrou nie – sal julle nie standhou nie. In die oorspronklike gedig word twee vorms van dieselfde Hebreeuse werkwoord ‘aman hier langs mekaar gebruik, albei met ’n negatief: as julle nie glo/vertrou nie; sal julle nie standvastig wees/betroubaar wees nie (ons woord ‘amen,’ ‘laat dit so wees,’ kom van aman af): die kousatiewe vorm van aman word hier gebruik vir vertroue – as julle nie op die Here vertrou nie; die refleksiewe vorm van aman beteken: standhou – sal julle nie op julle eie kan standhou nie. Dieselfde woord word gebruik in die Dawidsbelofte in 2 Sam 7:16 Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vasstaan. In Ps 89:25 word dieselfde woord gebruik: My trou en my liefde sal met hom (die koning) wees; deur My sal hy oorwin. Ps 89:34: Maar my liefde sal Ek van hom nie terughou nie en my trou nie verbreek nie. Op die kripiese woord van die Here volg ‘n ontleding van die politieke situasie: Die konings met hulle hoofstede en ryke, sal niks beteken nie. Agas word herinner aan die belofte wat die Here 300 jaar gelede al aan Dawid en sy nageslag en sy ryk gemaak het (2 Sam 7:16-19). Die koning moet nou sy vrees en planne laat vaar om Assirië se twyfelagtige hulp teen Resin en Peka in te roep. Hy moet op die enigste bron van sekerheid en beskerming vertrou, naamlik op die HERE. Hierdie teks word beskou as die belangrikste uitspraak oor die rol van geloof in Jesaja en in die hele Ou Testamernt. Om vas te staan in geloof beteken prakties om op die Here te vertrou onder enige dreiging; om jou veiligheid en jou toekoms aan die Here toe te vertrou, aan Hom wat altyd aktief en opmerksaam teenwoordig is (vgl. Jes 28:16; 30:15; Ps 62:2-3, 16; Flp 4:6-7). En dit word juis gesê te midde van die dreigende woede van die aanval van Agas se bure op Jerusalem. Die krisis draai om die Here, op wie die hele koninkryk van Juda en Jerusalem gebou is, om te alle tye op Hom te vertrou, veral as die storms losbars. So het Dawid, voor Goliat se swaard, op die Here vertrou, ook voor Saul se vervolging, en voor sy seun Absalom se aanslag op hom. Agas word geroep om goed te dink en soos sy voorvader Dawid op te tree met ‘n ander denkwyse en lewe wat deur hierdie betroubare God regeer word. Die hele koninkryk van Juda word opgeroep om terug te keer na die Here, na die oorspong van hulle bestaan.

7:10-11 Die konfrontasie tussen die profeet en die koning gaan voort, die stryd tussen vertroue en vrees, en die twee wêrelde wat uit vertroue of vrees voortvloei. Uit die volgende verse blyk dit dat Agas die radikale oproep tot geloof verwerp het. Maar die Here bied self aan Agas ‘n onbeperkte keuse (in die diepte of hoog op boontoe) vir ‘n (wonder) teken, om hom tot geloof en vertroue op die Here alleen te oortuig (vgl. Gideon wat drie maal ‘n teken van die Here gevra het, Rigt 6:17,36-37,39).

7:12 Op die oog af lyk dit of Agas se vrome weiering om ‘n teken van die Here te vra ooreenstem met die Here se opdrag in Deutr. 6:17 ‘julle mag nie die geduld van die Here HERE op die proef stel nie. Maar in werklikheid is dit die vrug van ongeloof, soos uit die res van die hoofstuk blyk. Agas het klaar besluit om Assirië se hulp in te roep teen Resin en Peka (2 Kon 16:7-9) en nie op die Here en sy woord te vertrou nie.

7:13 Die profeet berispe die koning omdat hy die aanbod van die Here verwerp: Luister huis/geslag van Dawid! Daarmee doen Jesaja ‘n beroep op Agas se posisie en verantwoordelikheid in ooreenstemmming met die Here se belofte aan Dawid wat die koningskap aan die nageslag van Dawid verbind het (2 Sam 7). Agas sê hy wil nie die Here toets nie. Jesaja sê hulle maak sy God moeg met hulle vroom praatjies. Dit kom op dieselfde neer as ‘n toets vir of teen die Here. Volgens 2 Kon 1:10-15 het Agas afgode gedien en ‘n deurtjie oopgelaat na die Here toe (vgl. 2 Kron 28:22-25). Hy het ook mense moeg gemaak – waarskynlik het die volk gedink hy behoort saam met Resin en Peka in opstand teen Assirië te kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan