Jesaja – Die Here se versekering aan Agas (7:1-6)- Francois Malan

Hoofstuk 7 begin met die koningskap van Agas van Juda (7:1). Die laaste paragraaf van hoofstuk 14 is ‘n uitspraak in die jaar van koning Agas se dood (14:28). Daarom word die agt hoofstukke van 7 tot 14 soms genoem die era van Agas. Daar is telkmale krisisse tydens sy regeringstyd. Terwyl die tien stamme van Israel in hierdie tyd in ballingskap weggevoer is, was dit deurentyd die vraag of Juda en Jerusalem dit sal oorleef. Hoofstukke 7-12 word ook ‘die boek van Immanuel’ genoem vanweë die belofte van ‘n seun met die aangrypende naam Immanuel, ‘God by ons,’ wat in mindere of meerdere mate die inhoud van dié hoofstukke bepaal. Jesaja se profetese uitsprake in hierdie hoofstukke sluit aan by die internasionale magstryd waarby die bondsvolk in hierdie tyd betrek is, maar het ook verdere perspektiewe op die koms en heerskappy van die Messias (9:1-6; 11:1-10; 12).

7:1-2 Agas regeer van 735-715 v.C. oor Juda. In 734 v.C. ruk die Assiriërs (van Nineve in die huidige Irak) op teen die state in die suide. Resin van Damaskus, in die huidige Sirië, probeer ‘n anti-Assiriese koalisie van Aramese state opgoep om die vloedgolf van die Assiriërs te keer. Peka koning van Israel in Samaria sluit daarby aan, en Resin en Peka val eers vir Agas van Juda aan, omdat hy nie saam met hulle teen Assirië wil veg nie. Agas stuur aan Assirië ‘n groot omkoopgeskenk om hom teen Resin en Peka te help (2 Kon 16:7-8) en verskuif selfs die bronsaltaar in die tempel om ‘n altaar vir die Assiriese god in sy plek te laat oprig (2 Kon 16:110-4). Assirië het Damaskus eers in 732 v.C. ingeneem. Maar toe die Assiriërs ook vir Israel begin verwoes, het Agas en die Judeërs uit vrees begin bewe soos bome in die wind (amper soos belowe in Lev 26:27,36). Dat ‘die huis van Dawid’ van angs bewe, getuig daarvan dat hulle nie op die Here vertrou soos Dawid nie, en dat die koningskap van die huis van Dawid uit vrees dwase besluite neem. Agas kies menslike mag teenoor vertroue op die Almagtige.

7:3 In die situasie van bedreiging, paniek en dwaasheid stuur die Here vir Jesaja na Agas. Agas is die verteenwoordiger van onbestendigheid en ongeloof (Agas het selfs sy seun verbrand vir Molog, die god van die heidense Kanaäniete, en diereoffers gebring op die rante en onder groen bome, 2 Kon 16:3-4). Jesaja moet sy seun saam neem. Die seun se naam Sear-Jasub voorspel: ‘n Oorblyfsel kom terug.’ Dit is tegelyk ‘n bedreiging dat daar net ‘n oorblyfsel sal wees, en ‘n sprankie hoop op die terugkoms uit ballingkap. Vir Agas moes die seun se naam dien om die erns van die situasie en van die Here se boodskap te beklemtoon. In die boonste dam is water uit ‘n fontein, êrens noord of noord-wes van Jerusalem opgegaar. Omdat die aanval uit die noorde verwag word, gee Agas eerste hieraan aandag (dit is nie die Siloagdam van Jes 8:6 nie, en word in 22:9 die onderste kanaal se opdamming genoem; vgl. 2 Sam 5:8. Hiskia verbeter later hierdie onderste kanaal, 2 Kon 20:20).

7:4-6 Jesaja se boodskap laat geen ruimte vir misverstand nie. Hy is bewus van Resin en Peka se planne en onderskat nie die gevaar daarvan nie. Die Here gee aan die profeet ‘n opdrag om sy verlossing aan te bied wat sekerheid aanbied met vier uitnodigende bevelswoorde om die koning uit sy paniek te bevry: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel nie! Die twee dreigende magte waarvoor Agas in angs bewe, wat sy en Juda se ondergang beplan, Resin en Peka is nie ‘n ernstige bedreiging nie. Hulle is rokende brandhoutstompe – meer rook as vuur (vgl. Jes 19:17-18). Die Here lag vir die bedreigings, en Agas sal dwaas wees om sy beleid deur hulle planne te laat bepaal. Op hierdie stadium was Sirië, Israel en Juda aldrie ondergeskik aan Assirië, en moes hulle belasting betaal vir sy ‘beskerming.’ In 742 en 738 v.C. is hulle reeds deur Assirië ingeneem (2 Kon 15:29). Resin en Peka beplan ‘n opstand teen Assirië en Agas wil nie saamspeel nie. Peka word nie op sy naam genoem nie, maar met sy pa se naam, omdat hy ‘n onwettige koning is wat die koningskap verkry het deur ‘n sameswering en deur koning Pekahia in die paleis te vermoor (2 Kon 15:25). Die seun van Tabeal, wat hulle in Agas se plek koning van Juda wil maak, ondersteun seker Peka en Resin se anti-Assiriese beleid, maar verder is niks oor hom bekend nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan