Jesaja – Die Immanuel-teken (7:14-25)- Francois Malan

7:14-16 Jesaja gaan voort met die konfontasie wat nou die hele volk insluit. Die Here sal self vir Israel/Juda ‘n teken gee, wat Agas nie gevra het en nie wou hê nie. Die sigbare teken maak die uitnodiging tot geloof in die Here konkreet en onontwykbaar. ‘Kyk! (let mooi op hier kom ‘n belangrike aankondiging van die Here) ‘n Jong vrou (Hebreeuse ‘almah – enige hubare vrou word so genoem tot by die geboorte van haar eersteling) word swanger en gee geboorte aan ‘n seun’. In Jesaja is die aandag nie op die vrou nie, maar op die naam en ouderdom van die seun as die teken van die Here. Die Griekse woord parthenos waarmee Matteus 1:23 die teks aanhaal en waaroor Lukas 1:27 skryf, verwys na ‘n ongetroude persoon, wat ook nie noodwendig ‘n maagd is nie. Die Latynse vertaling het dit met virgo vertaal, wat veral ‘n maagd aandui, maar ook ‘n jongvrou, en so is parthenos/virgo ‘maagd’ in die geloofsbelydenis opgeneem in 217 n.C. Soos die name van Jesaja se seuns ‘n duidelike boodskap vir Juda/Israel van die Here dra, sal hierdie vrou se seun ‘n belangrike bevestiging deur die Here wees, aan Agas, aan Juda/Israel en tot in die Nuwe Testament. Immanuel = ‘God met ons’ bevestig die hele teologie en geloof van Israel oor koning Dawid se koningskap wat altyd sal voortbestaan (2 Sam 7:12-16) en die Here se selfbenaming aan Moses as ‘die Ek is’ persoonlik teenwoodig, in Eks 3:14-15, en sy verbond met Abraham in Gen 12:3: Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Ps 46:1-2,6,8 wat al voor Jesaja se tyd gesing is, verkondig dieselfde boodskap.: Die HERE, die Almagtige, is by ons. Die kind monitor ook die duur van die huidige bedreiging deur die twee noordelike bure van Juda, bereken van die dag van dié teken af (7:16). Voordat die kindjie twee jaar oud is, die tyd waarop gereken is dat ‘n kind kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, sal die twee lande versaak wees (deur die Here) – dit wil sê oorgegee in die hande van die wrede Assiriërs (vgl. 2 Kon 15:30 vir Peka se dood en 2 Kon 16:9 vir Resin se dood). Agas vrees dié twee mindere magte, en sy vrees laat hom verkeerde besluite neem. As hy sou glo dat ‘God met ons’ is, kon sy vrees bedaar en kon hy rustig volgens die vier opdragte in 7:4 goeie besluite neem. Maar deur sy verwerping van die Here, word ‘God met ons’ vir hom ‘n bedreiging, en gee God hom oor aan sy gevaarlike ‘vriend’ Assirië.’ Die plasing van vers 15 tussen vers 14 se Immanuelteken en vers 16 se twee jaar van die seun is eienaardig. In 7:3 verwys Sear-Jashub (‘n oorblyfsel kom terug’) na die terugkeer ná die ballingskap. In 7:21-22 voorsien die oorvloed van melk uit een koei en twee ooie vir ‘n arme wat agterbly tydens die ballingskap. Hier in 7:15 word voorsien dat die seun tot sy tweede jaar ryklik met melk en heuning gevoed sal word tydens die bedreiging deur Resin en Peka.

7:17 Agas se besluit om die Here se Immanuelteken, dat God teenwoordig is, te ignoreer en voort te gaan met sy planne om Assirië se hulp in te roep teen sy twee buurvolke, bring moeilikheid. Die Here bring oor Agas en sy volk Juda, en die huis van sy vader (Dawid, van wie hy die koningskap oorgeërf het volgens die Here se belofte aan Dawid in 2 Sam 7) dae (moeilikheid) wat nog nie beleef is sedert die skeuring van die ryk in 922 v.C., na die dood van Salomo nie. Toe is die ryk verdeel tussen Juda (2 stamme) en Efraim (10 stamme van Israel) 200 jaar voor Agas. Dieselfde Assiriese koning in wie Agas sy vertroue gestel het (2 Kon 16:5-9), sal die oordeel van die Here oor Agas en sy volk voltrek. Die eintlike gevaar wat Agas nog nie raaksien nie, laat die digter sy sin in Hebreeus onderbreek met ‘n uitroep: die koning van Assirië! Met die aanwysing van Assirië, die groot brutale supermag, werp die boek Jesaja die hopelose koning Agas en sy hopelose volk Juda saam met hom in die kookpot van Assirië se roofsug en brutaliteit. Die verwerping van ‘God met ons’ veroorsaak ‘God teen ons’ in die vorm van die verwoesting deur Assirië. Vertroue versus Vrees is ’n politieke saak. Geloof in ‘God met ons’ maak die verskil tussen lewe en dood, vrede en oorlog, voorspoed en vernietiging, in die konkrete besluite van die daaglikse lewe, ook in politiese, sosioekonomiese, militêre besluite. 7:9 het gesê: geen geloof – geen toekoms.

7:18-25 Die konfrontasie tussen die profeet en die koning word hier opgevolg met ‘n byvoegsel met vier verwagtings oor die toekoms van Juda, wat alvier ingelei word met ‘op die dag’ (1983-vertaling: in dié tyd) in 7:18-19, 20, 21-22, 23-25 – die term word gebruik vir die dag van oordeel. Die koning se besluite het drastiese gevolge vir die koning se stad en sy volk. 7:17 se oordeel word uitgespel.

7:18-19 Die eerste uitspraak is ‘n lewendige beeld van die inval van Egipte uit die suide en Assirië uit die noorde op die land van Juda. Die swerms vlieë en bye is beelde van die leërs van dié twee lande (vgl. Deutr. 1:44; Ps 118:12).

7:20 Die tweede uitspraak se skeermes vertel ook van die vernietiging deur Assirië, met sy hoofstad Nineve oorkant die Eufraatrivier (letterlik net: rivier). Veroweraars het hulle gevangenes se koppe kaalgeskeer om hulle te verneder en sigbaar tot slawe te maak (vgl. 3:17). Die hare op julle liggame (letterlik ‘op julle voete’ as eufemisme vir die hare om die geslagsorgane) is ‘n aanduiding dat hulle kaal na hulle ballingskap sal stap. En dit nadat Agas die tempel en die paleis gestroop het van al die goud en silwer as omkoopgeskenk aan die koning van Assirië met die woorde: Ek is u dienskneg/slaaf en seun (wat aan u behoort; 2 Kon 16:7-8).

7:21-22 Die derde uitspraak verwys blykbaar na ‘n oorvloed van melk van een koei en twee ooie vir die verarmde res wat agterbly. Die slegte nuus is dat dit net ‘n oorblyfsel sal wees wat met min sal agterbly. Die glansende kommersiële stadslewe sal verruil word vir die karige voedsel van ‘n herderskultuur. Die goeie nuus is dat daar wel ‘n oorblyfsel sal wees met die ryke seën van die Here op elkeen wat agterbly se min wat hy het (vgl. 4:2-3; 6:13).

7:23-25 Na die vorige drie wat oor die mense van die land gepraat het, voltooi die vierde uitspraak die prentjie van verwoesting wat Agas oor die land gebring het. Driemaal word verwys na dorings en distels (vgl. Gen. 3:18). Welvarende, voorspoedige en vrugbare landbougrond word vervang met dorings en distels sonder oeste op ‘n land. Daar sal gejag word, maar geen bewerking van die ryk wingerde nie; die lande teen die heuwels word weiveld vir die diere. Die beloofde land word aan die elemente en wilde en mak diere oorgegee.

Die hoofstuk se boodskap was vir die 8e eeuse Juda geskryf, wat deur hulle vrees en hulle koning Agas se vrees vir die leeu gevlug het tot in die bek van die beer van Amos 5:19, die pad wat hulle ongeloof gevolg het tot in hulle vernietiging, deurdat die Here hulle prysgegee het om ballinge van hulle ‘redders’ te word. Maar die Nuwe Testament verbind die Immanuelteken met die koms van die nederige God van Betlehem en die kruis (Mt 1:23) vir elke eeu se keuse tussen geloof en vertroue op ‘God met ons’ en ‘n nederige lewe saam met .Hom op sy kruisweg, teenoor die wêreld se glans wat gebou word met mag en geweld uit ongeloof en vrees.

Skrywer:  Prof Francois Malan