Jesaja – Die oorblyfsel van Israel sal terugkom (10:20-34) – Francois Malan

Die gedeelte 10:20-23 handel oor die oorblyfsel uit die tien stamme van Israel wat ontvlug het uit die vernietiging van die huis van Jakob (hulle voorvader; die naam Israel beteken ‘God veg/worstel’ soos Hy met Jakob geworstel het om van die sterk Jakob ’n swak kreupele te maak wat net op die Here vertrou (Gen 32:28,31). Sy ou naam was Jakob, ‘bedrieër,’ Gen 28:37). Die volgende gedeelte, 10:24-27, handel oor Sion/Jerusalem. Op daardie dag (1983-vertaling: in dié tyd) van die Here se oordeel oor Assirië, sal die klein oorblyfsel waarna 10:19 verwys het, ‘nie meer leun op Assirië wat aan kom is/of besig is om hulle te vertap nie. Maar hulle sal in waarheid/waarlik leun op die Here, die Heilige van Israel (die woord ‘heilig’ het ook die element van toewyding, die Here is aan Israel toegewy).’

10:20 Een van die groot selfmisleidings van die mense wat die Here wantrou is die sterk versoeking om juis te vertrou op die instansie wat hulle gaan vernietig (soos bv. sekuriteit en bewapening, wat nie veiligheid kan waarborg nie – vgl. egter Ps 91:1-16 vir ware beskerming). Van die oorblyfsel word egter verwag dat hulle eg op die Here sal vertrou en van Hom afhanklik sal wees, en nie op politieke en militêre mag te vertrou nie.

10:21 Die oorblyfsel is dié mense wat sal terugkom na die magtige God toe, soos die naam van Jesaja se eerste kind bevestig het: Sear-Jasub ‘’n oorblyfsel kom terug’ (7:3). Dit impliseer nie net ‘n terugkeer na Noord-Israel nie, maar veral ‘n terugkeer na die Here, die magtige (sterk vegter) God, wat hulle groepie laat oorbly en laat ontvlug het, om Hom te vertrou en te dien, selfs in die ballingskap.

10:22-23 Die nag toe Jakob se naam verander is na Israel, het Jakob die Here herinner aan sy belofte dat Hy sy nageslag so baie soos die sand van die see sal maak (Gen 32:12; vgl. 22:16-17; 28:13-15; Hebr 11:12). Maar anders as Jakob, wat sy hulp by die Here gesoek het en op Hom vertrou het, het sy nageslag die Here verlaat en wil hulle nie op Hom vertrou in hulle vrees en nood nie. Daarom sal die ontelbare skare krimp tot ‘n klein oorblyfsel wat op die Here vertrou. ‘n Oorblyfsel van hulle kom terug (Sear-Jasub). ‘vernietiging is bepaal, geregtigheid oorstroom’ – die Here se besluit om Israel te vernietig staan vas en sy geregtigheid, wat deur Assirië toegedien word, sal Israel oorstroom (8:8). Die Here HERE van die leërskare het vas besluit op hulle vernietiging.

10:24 Verse 24-27 handel oor Sion, oor die tweestamme ryk van Juda. ‘Daarom so sê die Here HERE van die leërskare (vir wie Jesaja gesien het, 6:5) wat mag het oor al die leërs van die wêreld. Hy spreek ‘n woord van redding om die vrees van Juda, wat hulle dwaas en radeloos maak, te laat bedaar. Assirië is die Here se stok en staf om Jerusalem te slaan (1983-vertaling: julle vertrap en slawe maak).

10:25 Die toorn van die Here teen Juda sal egter nog ‘n klein rukkie duur, en daarna sal die toorn van die Here Assirië uitroei. Met die versekering van die klein rukkie word Juda uitgenooi om op die Here te vertrou en te hoop terwyl die Here se toorn nog steeds oor hulle woed.

10:26 Die oorwinning van Gideon se bende met 300 man oor die Midianiete is reeds in 9:3 as voorbeeld van die Here se wonderlike optrede genoem (Rigt. 6:33-7:25). Omdat die Israeliete destyds gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het Hy hulle vir 7 jaar oorgegee aan die mag van die Midianiete, wat hulle hard behandel het en die land kaal gestroop het (Rigt. 6:1-5). En toe het Israel tot die Here geroep om hulp. In opdrag van die Here het Gideon in die nag sy pa Joas se altaar vir Baäl en sy Asjerapaal afgebreek en sy pa se 7 jaar oud bul geoffer op die altaar wat Gideon vir die Here gebou het (6:24-28). Na die Here se sifting het Gideon se 300 man in die nag met fakkels en met die blaas op ramshorings die Midianiete en hulle bure in die kamp wakker geskud en die Here het die Midianiete onder mekaar laat veg en op die vlug laat slaan (7:21-22; vir die Orebrots vgl. Rigt 7:25; Ps 83:10-13). Die ander voorbeeld van die Here se wonder-uitredding verwys na Eksodus 14:26-28, toe Moses, in opdrag van die Here, sy hand oor die see uitgesteek het, en nie een van die hele agtervolgende leërmag van die farao oorgebly het nie. So sal die Here ook die leërmag van Assirië, wat die land oorstroom het, uitwis. Assirië was ‘n stok en staf in die hand van die Here om Juda te straf (10:5,24). Maar Assirië sal met ‘n sweep geslaan word.

10:27 Die juk is beeld van onderworpenheid en knegskap aan die Assiriërs (9:3; Ps 2:3). Die Here sal hulle daaruit verlos, soos vir Israel van ouds uit die slawehuis van Egipte en die onderworpenheid aan Midian. Die Here het dieselfde gebly. Vertrou op Hom!

 

Opmars en vernietiging van Assirië (10:28-34)

10:28-32 Die opmars van Assirië se magtige leër word beskryf met ritse woorde met alliterasies in Hebreeus. Dit begin by Aja (Ai van Josua 7-8) noord van Jerusalem oor die berge; hulle bêre hulle voorade in die kloof by Mikmas, waar die Filistyne 300 jaar tevore kamp opgeslaan het teen Saul (1 Sam 13:11); hulle trek oor die bergpas tussen Migron en Geba op pad na Jerusalem – die omliggende dorpies bewe en vlug weg; hulle slaan kamp op in Nob aan die bergreeks waarvan die Olyfberg deel is, vanwaar hulle afkyk op Jerusalem en die hand dreigend waai na die heuwel waarop Jerusalem en die tempel gebou is. Die groot goddelike drama ontvou in die majestieuse woorde van die teks. Die Here kom in majesteit en krag as die Here ook van hierdie leërskare.

10:33-34 ’Kyk! – hier volg ‘n belangrike aankondiging: ‘Die Here HERE van die leërskare is besig om die takke met geweld af te kap…’ Die Libanon-berg in die noorde van Israel met sy digte bosse wat afgekap word, is ‘n beeld van Jerusalem wat deur die ‘magtige’ afgekap word, die hoë bome van die leiers van Jerusalem, en die digte bosse van die bevolking. Die ‘magtige’ verwys na die magtige leërs van die Assiriërs wat onder die aanvoering van die HERE van die leërskare staan (die 1983-vertaling sien Assirië as die Libanonbos wat deur die magtige God afgekap word).

Skrywer: Prof Francois Malan