Jesaja – Die oordeel van die Here (8:1-22) – Francois Malan

Die hoofstuk het frases en beelde wat onduidelik is en moeilik met sekerheid uitgelê kan word. Sommige metafore is dubbelsinnig sodat dit nie altyd seker is of dit oordeel of hoop simboliseer nie. Die hoofsaak is egter geloof in die Here, en hier en daar skemer daar ‘n gedagte van ‘n oorblyfsel deur, wat anders leef as die volk in die algemeen.

Die oordeel oor Damaskus en Samaria (8:1-8).

8:1-2 Die boodskap met ‘n groot inskripsie op ‘n groot skryftablet, lui: Lemaheer sjalal gas baz (Plunder en roof is naby) – dit is die misdade wat gepleeg word wanneer ‘n stad of land ingeneem en verwoes word. Volgens 8:4 verwys dit na die oordeel wat Damaskus, die hoofstad van Sirië van koning Resin, en Samaria, die hoofstad van Israel van koning Peka gaan tref. Die boodskap word bevestig deur twee geloofwaardige getuies vir die Here, soos deur Deutr 17:6 vereis vir ‘n doodsvonnis en Deutr 19:15 vir alle hofsake. Urjia die hoëpriester, wat die afgodsaltaar volgens Agas se opdrag gebou en bedien het (2 Kon 16:11) en Sagaria, uit die Asaf-sanggroep (2 Kron 29:13), ook genoem die seun van Jeberekja, wat volgens 2 Kron 29:1 die oupa aan moederskant was van koning Hiskia, wat sy pa Agas as koning opgevolg het. Die twee getuies kom uit die leiers in Jerusalem, die hoëpriester en koning Agas se skoonvader. Hulle name bevat verwysings na die naam Jahweh in: Urija ‘die Here is lig,’ Sagaria ‘die Here het onthou,’ en Jeberegja ‘mag die Here seën.’

8:3-4 ‘En ek het by die profetes gekom (naby kom – eufemisme vir geslagsgemeenskap met die profetes, Jesaja se eie vrou).’ Die naam van Jesaja se derde seun bevestig die boodskap op die inskripsie as ‘n lewende getuie daarvan: Maheer- Sjalal-gas-baz (Die Le vooraan die inskripsie kondig die saak aan). Die tyd wanneer die ‘plunder en roof’-oordeel sal uitbreek oor die twee volke kom nader, voor die seuntjie kan begin praat (tussen 9 maande en 1 jaar). In 7:14,16 is nog na die tyd van onderskeiding tussen goed en kwaad verwys, hier na die onderskeiding tussen pa en ma. Die rykdom van Damaskus en die buit (sjalal beteken ‘roof’ en die ‘buit’ wat geroof is) van Samaria sal weggedra word tot voor die koning van Samaria, soos met die mense as slawe en hulle besittings as oorlogsbuit in ‘n triomftog ná ‘n oorwinning gespog word en hulle God so bespot word. Die bedreiging deur die twee volke sal binne 9 maande na die geboorte van die seun verdamp. Daarom hoef Agas nie vir hulle te vrees nie. In ‘n inskripsie spog Tiglat-Pileser III : Israel met al sy inwoners en goedere het ek na Assirë toe gelei. Hulle het hulle koning Peka omvergewerp en ek het Hosea as koning oor hulle gekroon. Israel het toe ‘n Assiriese provinsie geword (2 Kon 15:29-30).

 

Die oordeel oor Juda (8:5-22)

8:5-8 Uit vrees vir die twee buurstate wat groot dele van Juda binnegedring het en Jerusalem omring het (2 Kon 16:5-6), het Agas onder die druk van Assirië geswig (2 Kon 16:7-8). Die noodlottige besluit word in hierdie verse ontbloot as dwaas en vernietigend. Hulle kon vir die kalm waters van Siloag in Jerusalem gekies het, wat deur die berg met die ou tonnel van die Gihonfontein af gevoed kon word, maar die gees van rebellie en opstand is haastig en het nie tyd vir kalm vertroue op die Here nie. Die Jebusiete, wat voor Dawid in Jerusalem gewoon het (voor 1,000 v.C.), het al ‘n tonnel van die Gihonfontein af tot binne die mure van Jerusalem gehad (2 Sam 5:8), voor die tonnel van Hiskia gegrawe is (700 v.C.; 2 Kron 32:30). Die Siloagbad was ‘n opgaarplek wat tydens ‘n aanval water kon verskaf aan die stad. Maar weens hulle keuse van Assirië laat die Here die waters van die Eufraat oorstroom, ’n simbool vir Assirië met sy hoofstad Nineve aan die Eufraat. Wanneer die sneeu op die berge begin smelt, oorstroom die waters die walle van die Eufraat en sy kanale. Jesaja gebruik die beeld in digterlike taal: So sal die magtige vloedwaters, nl. Assirië se leërs, Juda oorstroom en daardeur vloei tot skouerhoogte (leterlik: tot by die nek), om die hulpeloosheid van Juda teen die magtige ‘waters’ te skilder (vgl. 30:28).

Die tweede beeld van die besetting van Juda deur die Assiriese leërs is van ‘n roofvoël wat sy prooi vaskeer sonder ‘n uitkomkans wanneer hy sy vlerke bo-oor hom uitsprei. Agas en Juda word hier ironies Immanuel, God met ons, genoem. Die Here wat die leërs beheer en lei, is by hulle; dit is sy land en sy volk en sy koning, maar hulle het hulle rug op Hom en sy aanbod gedraai. Daarom het Hy hulle aan Assirië, hulle gekose verlosser, oorgegee.

Skrywer:  Prof Francois Malan